Marlise Izaaks
Marlise Izaaks

Soms het genesing vier pote

Marlise Izaaks

Ek stap daardie Dinsdagmiddag, 25 Augustus, net met sy halsband uit die veearts se kliniek. 

Ek het my Jojo vir ’n laaste keer gegroet. Een van die moeilikste besluite, maar ek het nie regtig ’n ander keuse gehad as om hom te laat gaan nie. Die volgende dag op Internasionale Hondedag voel dit veel erger en die verlies bly vars en tuis in my binneste.

Dertien jaar terug kry ek Jojo as geskenk. Die Here het geweet ek het hom nodig gehad, selfs meer as hy vir my. Regdeur ons lewens is daar talle hulpmiddels vir trauma-genesing. Ons kry verskillende dinge om teleurstelling en trauma deur te werk, jy weet, om die seer en teleurstelling te help dra en om te help om jou pad weer terug na jouself te vind. 

Musiek is so ’n kragtige middel wat ’n emosionele uitlaatklep kan bied, wanneer daar net glad nie woorde is nie. Of jy ’n instrument kan speel, of net luister, dit kan help om die vele emosies te verwerk. 

Skryf of om ’n dagboek te hou en die emosies in woorde te omskep, help om die ervarings nie meer so chaoties te laat voel nie. Kuns is net so ’n handige hulpmiddel om jou emosies na buite te bring, sonder om dit vir enigiemand te probeer verduidelik. 

Dan is daar die natuur en die perspektief wat die buitelewe kan bied, bak en brou, lees, ’n projek wat betekenis gee, gebed, ’n vriend se oor – die lys is lank. Vir my was dit egter my vierpoot-seuntjie.

Vir hom hoef ek nie die trauma te verduidelik nie en nog minder het sy liefde vereis dat ek eers moes gesond word om daardie liefde te ontvang. Hy het my net elke dag genooi na buite, om te sit, te gaan stap, hom te voed en nooit alleen te laat. 

Daardie klein uitnodigings het ’n lewenslyn terug na myself geword. Hy het deel van my roetine geword, troos gebied en op moeilike dae my die moed gegee om op te staan. Hondekinders weet nie wat jy dra nie – hulle hoef nie – hulle bly net om aan die seer te help dra. 

Daar is iets buitengewoon aan ’n troeteldier se vermoë om ons na die hede terug te bring. Wanneer jou gedagtes in gister vasgevang is of jy bang is oor die toekoms, leef ’n hond in vandag. 

Vandag vra vir ’n wandeling, vandag benodig kos en aandag. Vandag het warmte nodig. Dalk is een van die stiller geskenke van genesing om te leer om net na vandag terug te keer. 

Soms is trauma-genesing nie ’n deurbraak in ’n terapiesessie nie, daardie oomblik wanneer alles skielik sin maak nie. Soms kom genesing baie stiller soos ’n wandeling om die blok, ’n stokperdjie, musiek, tuinmaak, skryf, kook, die natuur, gebed, of ’n skepsel wat liefde gee sonder om ons te vra om te verduidelik waarom ons seer het. Hulle neem nie die seer weg nie, maar help ons om dit te dra. En dan is dit die eerste stap om daardie seer neer te sit.

Dankie my liefste hondekind vir jou pote-afdrukke op my hart en die harte van my geliefdes. Vir jou sal ek altyd lief wees.

– Gasskrywer

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-09-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer