No Image Caption

Sommige spring vakansie vry

Ek sê maar net 30 jaar gelede
Mandy Rittmann
Gert Kruger – Dit is weer dáárdie tyd van die jaar!

Oral waar jy kom, word gesels oor die vakansie wat voorlê. Stap jy by ’n winkel in, is dit ’n geskarrel van mense om gou die laaste inkopies te doen voor die pad na die see gevat word. Hier is een besig om nuwe vishoeke te koop, daar is een besig om ’n viskatrol te toets en nog een is besig om tussen die derduisende visstokke rond te dwaal om die regte een vir ’n rekord-vis uit te soek.

Niemand steur hulle aan ons ou verslaggewertjies wat oor die Groot Dae in Windhoek se hitte moet sit en probeer ’n koerant uitgee wat die gelukkiges met ’n bier in die hand en ’n visstok in die water luilekker langs die koel Atlantiese Oseaan kan lees nie. Sies!

Vandat ek in 1979 in Windhoek begin werk het, was dit nog elke jaar hierdie tyd my een groot wens om langs die hoofpad na Okahandja te gaan sit met ’n kettie en soos Dawid van ouds met sy slingervel alle gelukkige blikskottels se bande pap te skiet.

Ja, ek is groen van jaloesie.

Want sien, wie sal nou nie graag elke oggend met ’n visstok in die hand daar by Bennie se Rooi Lorrie, Myl 108, Jakkalsputz of Sêra se Gat wil staan en die blinklywe uittrek nie? Of sommer net op die strand ronddwaal en so ’n skelm kykie in die rigting van die “blond” met die eina-bikini gee nie? Of sommer net daar tussen niks en nêrens op die strand sit en uitstaar oor die see nie?

Al wat ek en die ander armsaliges nou kan doen, is om voor Steenbras op die sypaadjie te gaan sit en hoop Johan of Trompie laat ons toe om ’n gaar vis uit te trek. (Wie het gesê verbeelding kan nie ’n rol speel nie?) Of om na ’n videowinkel te gaan en ’n rolprent uit te neem wat iewers op ’n Amerikaanse strand geskiet is. Hopelik sal daar ook eina-bikini’s te sien wees en sal ’n mens darem iewers die geluid van die see hoor. Pleks van oor die see uit te staar, kan ’n mens op die bed gaan lê en sweet en jou verbeel die sweet is die branders se sproei.

Op universiteit was die gesegde: “Manjana, môre is nog ’n dag.” Ek wil ook sê môre is nog ’n dag (ek sal ook my dag kry) en net om die gelukkiges so ’n bietjie te laat dink, wil ek byvoeg: “. . . en elke hond kry sy dag.” Hulle sal ook ’n beurt kry om die binneland se hitte oor ’n Desembermaand te trotseer.

In die gees van Kerstyd wil ek egter aan almal by die see en ook dié wat elders vakansie hou, sê: “Geniet dit. Rus goed uit, want die nuwe jaar gaan veel meer van elkeen vra as die oue.”

Vir dié by die see: “Los tog maar ’n paar vissies oor vir ons ouens wat dalk later ’n kansie kry om na die viswaters weg te glip.” – 13 Desember 1994

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer