Skoenlappers op die bonnet
Errol Hurter – Het nogal heelwat reaksie ontvang op die storie van die Plymouth met die stuurwielknop. Ek moet sê ek het nie geweet dat die “ouer garde” ook daai stories lees nie.
Een kêrel, ’n oudkollega met wie ek baie goed saamgewerk het, keer my op straat voor en wil net slaan want hy sê hy het so ’n stuurwielknop aan sy Kombi se stuurwiel vasgesit. Hy het eers lekker gery met sy elmboog op die armleuning van die deur. Hy soek nou ’n ander plek vir sy elmboog want mense wat so ry, is dan kwansuis windgat. Sorry ou Corrie, maar dis nie nodig dat jy worry nie. Volgende keer bel ek jou eers om vas te stel of ek met veiligheid kan skryf.
’n Ander oudkollega van die Kantoor van die Ombudsman met wie ek goed móés saamwerk, vra of ek nog die metaalsonskerm kan onthou wat motoreienaars bo die voorruit van die voertuig aangebring het. Dit het kompleet gelyk of die kar ’n bofbalpetjie gedra het. Toe hy so praat, val dit my by dat die Plymouth ook so ’n keps gehad het. Nog ’n ander bykomstigheid was ’n groot plestiekskoenlapper in pienk, groen, geel, blou en dalk nog ’n paar ander kleure wat voor op die neusbeeld (vir die oningeligtes, die mascot) op die enjinkap van die kar vasgesit is. Die vorm en hoek van die skoenlapper se oopgespreide vlerke sou glo die lugstroom wat oor die kar vloei, sodanig verander het dat al wat ’n mot en vlinder en vlieg en sprinkaantjie skadeloos bo-oor die kar se dak gewaai het, “net om op die voorruit te val van die kar van die ou wat agter jou ry, “laat ’n derde oudkollega van hom hoor.
Die einste derde oudkollega vra toe of ons die hondjies onthou wat in die kar se agterste venster gelê het met die pootjies netjies onder hulle ingevou. Uit sy vraag is dit baie duidelik dat hy heelwat jonger as die res van ons is. Elke keer as die kar deur ’n knik ry, knik die hondjie se kop so half instemmend asof hy vir sy baas wil sê “nou het jy daai gat darem goed raakgery”.
Dan was daar natuurlik nog die kussings wat in die agterste venster gelê het, nugter weet waarom. In die jongste verlede het sulke oorversierde kleurvolle kitsch blikkissies hul verskyning in karre se agterste vensters gemaak. Of die kareienaar sy jewels daarin rondgery het, weet g’n niemand nie. Vir al wat ek weet, was dit dalk ’n eerstehulpkissie, maar dan het dit definitief nie van die St. John’s-mense gekom nie.
Daar is uiteraard nog baie sulke goed wat mense in of aan hul motors gesit het om óf die eienaar se karakter uit te beeld óf om die kar ’n ander karakter of voorkoms te gee. Maar wie is ek om te kritiseer. Agter op my motor se kattebak sit ’n sticker met die kop van ’n “wildschwein” daarop afgebeeld. Maar dis ook al. En asseblief, geen wyshede oor die karakter van die drywer nie. – 29 Julie 1996


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie