Skerp skoene en pronk-pakke
Ek sê maar net 30 jaar gelede
Dit is die tyd van die jaar wanneer almal van alles afskeid neem net om die volgende oggend wakker te word met die besef dat van niemand en niks, behalwe ’n hele paar dollars, afskeid geneem is nie.
Gewoonlik bly net die bittere besef oor dat die lewensbult steiler word, maar van omdraai is daar nie sprake nie.
Deftigheid is sonder die uitsondering die boodskap van ’n hoop afskeidsuitnodigings wat opgestapel lê.
In die fynste van fynskrif, fyner as dié onder ’n huurkoopkontrak, word die aandag van die genooide gevestig op die formele drag wat die partytjie moet kenmerk.
Nadat ek aanvanklik aan niks deftiger as ’n langbroek-safaripak met ’n bypassende das en gepolitoerde vellies kon dink nie, lees ek in een van die vrouetydskrifte dat formeel die volgende beteken:
’n Swart broek met ’n blink streep langs die kant. ’n Valletjieshemp met geborduurde patrone wat lyk asof jy die bladmusiek van ’n opera aangetrek het of dat jy gekies is om Roy Rogers se perd in ’n rolprent te wees.
Formeel beteken ook ’n baadjie met blink lapelle en ’n blink das wat eintlik ’n swak namaaksel van ’n serp of ’n sleg geknoopte Cowboy-nekband is.
Die swart skoene se punte moet so skerp wees dat die skoen aan ’n nommer agt-voet eintlik ’n nommer dertien-skoen moet wees en nie eens ’n volstruis se voet sal in daardie eentoon-skoen pas nie.
As jy al hierdie dinge gedoen het, is jy formeel, beweer die tydskrif.
As enigiemand met hierdie beskrywing nog onseker is oor wat eintlik formeel is, kan jy net ’n draai by enige hotel se eetsaal maak en kyk hoe die hoofkelner lyk.
Namibië se kelners is meer formeel as die gaste.
Wanneer jy soos ’n kelner aangetrek is, is jy formeel.
Dit bring my by die dilemma van hoe formeel jy moet lyk om die gasheer te oortuig dat jy inderdaad nie die hoofkelner is nie, maar ’n genooide gas.
As jy meer formeel as dit wil wees, soos ons ou volkie se manier nou eenmaal is, sal ’n draai by die deurwagter van die Kalahari Sands baie help om ’n idee van meer formeel te kry.
Die enigste persoon in Namibië wat meer formeel as die Kalahari Sands se deurwag lyk, is die hoof van die Weermag, genl. Dimo Hamaambo, wanneer hy sy formele rooi baadjie vir militêre geleenthede aanhet.
Hy is die toonbeeld van hoe ’n mens selfs tussen ’n groep van hoofkelners as “meer spesiaal vir die okkasie aangetrek” kan lyk.
As hy dit boonop kan regkry om ’n beret so uniek soos die polisie se genl. Andima te kan dra, sal Namibië as leiers van die formele-mode die Franse laat bloos.
Volgens die beskrywing van formeel sal ek voortaan maar eerder by geleenthede soos begrafnisse formeel afskeid neem.
Blykbaar is die ou tradisionele pak klere vir dié doel goed genoeg. Soos wat dieselfde pak vir aanneming, matriekafskeid, troue en doop goed genoeg was.
Buitendien is dit ook omgewingsvriendelik en sal die Groenparty daarvan hou.
Die sewende geslag motte woon nou reeds in sy sakke en hulle is gelukkig.
Ek ook. – 20 November 1995

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie