Des Erasmus
Des Erasmus

Sit op daardie gier!

Sê maar net 30 jaar gelede
Mandy Rittmann
Des Erasmus – Veral onder die boeremense is daar ’n kompleks (dalk sommer net ’n gier) wat gebreek moet word.

Dit is ’n trekkersgees wat die Voortrekkers die gebergtes laat aandurf het en voorsate hier te lande die Dorsland Angola toe en terug laat oor het.

Oor die Dorsland en die Voortrekkers het ek al eendersluidende stukke gelees. Albei het gehandel oor hartroerende afskeidsbyeenkomste tussen diegene wat moet weg en diegene wat moet bly. Die trekkers het huis en hard prysgegee omdat hulle voor ’n verskriklike drang moes swig om te weg.

Dok Paul het vertel van die kinders wat nie met die Dorsland kon begryp hoekom die oumense huil terwyl die trekspanne voor die waens van gereedheid staan en bewe het nie. So veel avontuur, so veel opwinding ... en dan huil die oumense? Om te wat?

Hierdie einste trekkersdrang vind dié tyd van die jaar gestalte in ’n verlofganery. Of dit nou enkellopendes of ouers met kinders op skool is, weg moet hulle weg in Desember. Elkeen het sy verskoning. Hulle wil Krismis by die “huis” wees. Maar dan is die aansoekers hardebaarde van 40 jaar en meer en mense vir wie “huis” hoeka hul eie plekkie behoort te wees. Daar is die ewige besprekings wat al agttien maande en langer gelede gedoen is, die saamrykans van ’n leeftyd wat heel toevallig in Desember moes kom en die familiesaamtrekke waar iemand net nie kans sien dat sy plekkie leeg moet wees nie.

Hoe verskriklik!

Ek kan aan baie redes dink om Desember tuis te bly en byvoorbeeld teen die einde van Januarie of Februarie weg te wees. Baie Desembervakansies gaan wreed onderbreek word met ’n tyding dat daar tuis ingebreek is. Want to bet?

By die plekke en oorde wat teen wil en dank besoek moet word, gaan daar ’n vertrapping van mense wees. Hierdie hordes gaan vakansiepryse vir vakansiehuisvesting en produkte betaal. As gevolg van die oorbevolking gaan daar aanstoot gegee en geneem word.

Tuis gaan dit stil wees. Die verpligte openbare vakansiedae sal aangewend kan word om opgehoopte werkies in te haal en in die stad se leë uithangplekke gaan daar plek vir almal wees. Moontlike inbrekers sal hulle in die lope van haelgewere vasloop. In die dorre Desember sal daar persoonlike toesig oor die ingekorte tuintjies van die waterskaarste wees.

In Februarie gaan daar baie plekke vir almal by die gewildste vakansieoorde wees. Die vrugte van die Boland gaan ryp wees en tuis gaan milde reën verseker dat ’n oorgroeide tuin die terugkerendes inwag. Selfs buiteseisoen-pryse gaan gevra word. En die bure langsaan sal oor jou eiendom kan waak, want hulle sal soos al die ander ook ’n vakansiedrang in Desember hê waarvan net die rekeninge dan nog oor gaan wees.

En Februarie is die maand wanneer ons kus se vis teen die kant kom wei.

Desembervakansies?

Eintlik is dit niks anders as die drang wat die trekkers die hoogtes laat aandurf het nie.

Ek bly, en jy?

– 13 November 1992

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2022-12-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer