Deon Schlechter
Deon Schlechter

Sieke dra die gesonde

Ek sê maar net 30 jaar gelede
Mandy Rittmann
“Elke dag is ’n fees.”

Hy sê dit met soveel oortuiging dat jy vergeet van die sigbare letsels wat die kankerbehandeling oor sy geharde gesig getrek het. Die spook van ’n ongeneeslike siekte wyk voor die werklikheid van ’n mooi lewensfilosofie en terwyl al wat leef en beef nou begin om boodskappe van Kersvreugde en Nuwejaarwense om die aardbol te stuur, staan hierdie dapper gees in skrille kontras met antwoorde wat jy daagliks van die jonges en gesondes kry.

Die ou spreekwoord van die sieke wat die gesonde dra, dreun deur my kop en my gedagtes dwaal na byna ’n jaar gelede toe ek hom daar tussen die geskreeu van duisende raakrugby-liefhebbers ná ’n lang afwesigheid weer raakgeloop het. Toe het dit liggaamlik baie beter gegaan. Maar toe was die groet presies dieselfde: “Elke dag is ’n fees”.

Ons lewenspaadjies het jare terug geskei en dit was eers daar in die Desember-son van Langstrand dat ek gehoor het van die siekte. Tot my voordeel moes ek hom gereeld bel in die jaar wat nou op sy rug wil lê. En elke keer as ek gevra het hoe dit gaan, het ek dieselfde antwoord gekry. En sommer baie geleer.

“As jy gesond is, moet jy nie kla nie. Al die ander probleme sal regkom.”

Daardie stukkie raad het ek mettertyd in watte toegedraai en soos ’n kleinood saam met my deur 1995 gedra. En wanneer ek gesukkel het met dié lewensuitkyk, het ek weer gebel en gevra hoe dit gaan. Net om seker te maak. Elke keer was die antwoord: “Elke dag is ’n fees.”

Dan het ek weer my sak sout opgetel en voortgebeur.

En hier teen Augustusmaand het die resep vir my begin werk. Dis toe die groot rugpyn gedreig het om my plat te trek. Hy’s nou nog nie weg nie, maar as mense my vra hoe dit gaan, wil-wil ek so tussen die pyn deur sê: “Elke dag is ’n fees.”

Mense raak hierdie tyd van die jaar so ietwat losser met die antwoorde, maar dit sukkel maar steeds om mooi dinge te hoor. Daar’s altyd iets wat skeeftrek en dis maar weinig dat dit siekte is. Mense hou daarvan om te kla. Sommer omdat dit lekker is om te kla.

As daar iets is wat ek die afgelope jaar geleer het en gaan onthou, is dit om nooit sonder rede oor jou gesondheid te murmureer nie. Net soos my leermeester dit ’n opdrag gemaak het om elke dag as ’n fees te beskou, is daar duisende wat elke dag die teenoorgestelde doen.

Hierdie kontras op die vooraand van die feesgety is my mooi van ’n jaar wat nie sonder probleme was nie, maar ’n jaar waarin daar genoeg mense rondom my was wat my hand kon vat. Mense wat nie lief is om te kla nie. Mense soos my leermeester.

Terwyl duisende nou net een ding in hul koppe het en dit is om die meeste van die vakansieseisoen te maak, het hy al hard begin werk aan ’n 1996 waarin honderde jong manne onder sy bekwame hande gaan deurloop en die les gaan leer dat elke dag eintlik ’n feesdag is. Mits jy nie oor nietighede kla nie.

Ek hoop hy vat ook weer my hand in die nuwe jaar.

Dan maak ons weer so. En dan is elke dag ’n fees.

– 30 November 1995

Kommentaar

Republikein 2025-11-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer