Ruik jy soos liefde?
Ek het altyd gedink “jy moet jou naaste liefhê soos jouself” beteken jy moet net ordentlik teenoor jou buurman wees.
Jy weet, die ou wat langs jou woon, jou tannie wat jou elke Sondag in die kerk groet, jou kollega wat sy koffie so hard roer dat jy nie kan hoor wat op Teams aangaan nie. Maar toe kom ek agter – die Bybel is nie besig met maklike liefde nie.
Die Here sê eerstens: jy moet Hom liefhê met jou hele hart, siel, krag, verstand – en dan: jou naaste soos jouself. En elke mens, elkeen van die byna agt miljard op aarde, is na God se beeld geskep. Ja, ook daai een.
Ons praat nie net van ons kinders, of ons ouers, of ons BFF wat memes vir ons op ’n slegte dag stuur nie. Nee, ek praat van die ou wat op die sypaadjie lê en na drank en sweet ruik.
Ek praat van die vrou in die mall met maskara oor haar wange wat niemand meer raaksien nie. Die een wat aan jou kar se ruit klop, die een met bloedbelope oë wat vir iets vra – al is dit net jou aandag.
Ek noem myself ’n “sucker”. Ek trek mense soos ’n magneet aan. Ek kan in ’n onbekende dorp of in ’n stampvol mall wees – iemand sal my uit die skare kies en sê: “Boetie, help my asseblief.”
Nou die dag was ek by ’n geleentheid. Netjies geklee, goeie mense, goeie gees. En daar was hy – die ou wat ek al op die strate gesien het. Woedend. Dronk. Eensaam. Hy’s nie die tipe wat jy by ’n ordentlike funksie sou verwag nie. En toe sien hy my.
Hy stap reguit na my toe. Roep my op my naam. En sonder waarskuwing druk hy my teen hom vas. Hy het nie gevra nie – hy het net gekom. Sy klere nat van sweet, sy asem swaar van drank. Die omstanders kyk toe. Ek voel versmoor.
Hy het nie ’n groet gebring nie. Hy het net geneem. Sy omhelsing was nie vriendskap nie – dit was manipulasie. Ek kon dit voel. Hy het my nie nodig gehad vir liefde nie, maar vir iets wat ek kon gee. ’n Guns. ’n Vinnige wins.
Ek het hom nie geld gegee nie. Nie kos nie. Nie tyd nie. Ek het net probeer wegkom. En in die kar kon ek hom steeds ruik. Toe ek by die huis aankom, het my vrou en kinders gevra: “Wat ruik so?”
Ek het my hande en my klere gewas. Ek het probeer om my gewete skoon te skrop.
Maar toe kom die gedagte: Wat het ek by hom agtergelaat?
Ja, ek het sy reuk saam huis toe gebring. Maar het hy enigiets van my geneem wat die moeite werd was? Het ek liefde uitgestraal of net nog ’n voorbeeld van verwerping geword?
Jesus het gesê: “Toe Ek honger was, het jy My nie gevoed nie. Toe Ek in die tronk was, het jy My nie besoek nie.”
En hulle vra: “Maar Here, wanneer was dit U?”
En Hy antwoord: “Wat julle aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle aan My nie gedoen nie.”
Ek weet nie of ek reg of verkeerd opgetree het nie. Maar ek weet ek het daardie man nie gesien soos God hom sien nie. Ek het hom gesien soos ek hom wíl sien – as ’n las. Nie ’n naaste nie.
Volgende keer, dalk, gee ek nie noodwendig geld nie. Maar miskien sal ek respek toon. Dalk luister ek. Dalk groet ek met opregtheid. Dalk ruik hy dan soos ek. En dalk ruik ek, uiteindelik, soos liefde.
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie