Renu00E9 Hugo
Renu00E9 Hugo

Reën op Skilpadtepel

René Hugo

René Hugo – Ek lees ’n boekie van Anton Prinsloo  oor die herkoms van idiome en taalgebruike in Afrikaans.  

So sien ek die beskrywing van harde en aanhoudende reën as: “Dit reën darem nou regtig katte en honde. . .” Hierdie spreekwoord hou skynbaar verband met die feit dat, tydens swaar reënstorms, dooie katte en honde dikwels langs strate afgespoel word.

Maar dit stuur toe my kop weer in ’n ander rigting: Suider-Afrika se huidige reënseisoen. Want hier is dit nie die goud, diamante of olie wat ons harte vul nie, maar reën – ons wonderlikste gawe.

In Suid-Afrika is reën so alledaags soos sonskyn.  Almal het reënjasse en sambrele wat uitgehaal word sodra die eerste druppels val. So gewapen gaan alles dan normaal voort.  

Pretorianers praat graag (tong-in-die-kies) van die “staatdiens-reën” wat skielik, uit ’n helder sonskyn hemel, so vieruur elke middag begin sous. En almal het goeie begrip vir Anton Goosen as hy sing van die geelperskereën wat bietjie-bietjie val.

Maar Suid-Afrikaners is nie ongevoelig vir droogtes nie. Dan begin almal angstig die hemelruim bestudeer. Koerante is vol foto’s van boere wat bitter swaar kry; diere wat uitgedors sterf, landerye wat kliphard is en tuine wat verdor.  Dit word gevolg deur kerke wat ’n biddag vir reën afkondig. Op dié dag sluit skole, winkels maak toe, werkers kry betaalde verlof en die kerke is oorvol. Hierdie dienste is sekerlik van die hardroerendste byeenkomste ooit – en almal wat uit die kerk uitkom kyk gelowig na bo vir die eerste tekens van reën. 

Hier in Namibië (wat beskryf word as die droogste land in Afrika suid van die Sahara) is die benadering tot reën ’n bietjie anders. Want Namibië is mos ’n woestynland. En reën beteken hier die verskil tussen lag en huil, sukses en mislukking, en uiteindelik ook genoeg-vir-elke-dag teenoor desperate hongersnood.

Die Namibiese boere is vanselfsprekend reënkundiges, want hul lewensbestaan is hiervan afhanklik. Almal weet haarfyn van hoeveel, waar en wanneer reën kan/sal/miskien gebeur. En van die klein-reëntyd (so tussen die helfte van Desember en Januarie) en die groot-reëntyd. Laasgenoemde is ons maak-of-breek-tyd. Dan verander baie mense se woordgebruik van reënwater na hemelwater. Want ons weet mos waar ons hulp vandaan kom. . .

’n Besondere kenmerk van Namibië se reëntyd is die spesiale reuk van reën op droë aarde – wat “petrichor” genoem word.  Dié woord is uit twee Griekse woorde saamgestel, wat “petra” (rots) en “chor” (bloed van die gode) beteken. Ek verstaan dat dit die gebruik in sommige kerke was dat boere tydens die biddag vir reën ’n sakkie grond van hul plaas saambring. Ná die diens word hierdie grond op ’n hoop gesit en met water besprinkel – sodat almal die reuk van “petrichor” kon beleef. En op uitkoms kon glo.

In die dorpe het almal reënmeters. Die inhoud hiervan word presies gemeet, opgeskryf en bekend gemaak. As twee bure se meters dalk verskil, kan dit selfs aanleiding gee tot ongemaklike groetery, opmerkings oor die korrekte plasings van meters, en stywe gesprekke oor die regte tye van die dag/nag wat lesings geneem behoort te word.

Maar, nie almal in Namibië voel dieselfde oor reën nie. So skryf Christiaan Bakkes oor die Namib: “Hier het organismes deur millennia aangepas om met die minimum vog klaar te kom. Ons het nie reën nodig nie.”

Nogtans dink ek sal die meeste Namibiërs, as die druppels begin val, saam met Adam Tas sing: “Sy koring kom en sy Gannatjies blom, want dit reën weer op Skilpadtepel!”


– Gasskrywer

[email protected]

 

* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar

Republikein 2026-05-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer