Purperkleed van lente
Diegene wat my redelik goed ken, sal weet dat ek winter bo al die ander seisoene verkies.
Dit is waarskynlik omdat ek hier in die Suidelike Halfrond in die hartjie van winter in die oudste woestynland gebore is. ’n Land wat gekenmerk word deur droë, koue winteraande.
Ek vind dit nogal vreemd wanneer mense in Europa na my as ’n somerkind verwys en dan opnuut net weer dié besef dat hulle tog ook reg is. Perspektief is relatief, maar in hierdie kontrei is ek in die winter gebore en dié seisoen bly my hartseisoen omdat dit by my ’n gevoel van geborgenheid wek.
’n Rustigheid in gemoed. ’n Tuiste. ’n Warmte. Dalk omdat ’n mens om ’n helderoranje kampvuur kan sit en na die ikoniese kraak van die kameeldoringhout kan luister en boonop aan geelvet biltong kan smul en ’n warm koppie tuisgemaakte glühwein kan geniet, maar onlangs het die kleurprag van die huidige seisoen my hartsnare kom roer.
Die jakarandas van ons stad het my laat besef elke seisoen is mooi en uniek en elke seisoen het ’n spesifieke doel. Oral waar ek tot dusver gekom het, troon die jakarandabome hoog en verryk ons stad met haar unieke pers prag en praal. Haar uitsonderlike purperkleed.
Hierdie tapisserie van sierbome is so verfrissend en dis asof haar dubbelveervormige, laventelpers, trompetvormige blommetjies my tot stilstand toor.
Die bome roep my nie net tot stilte nie, maar ek word ontnugter en besef dat ek nes die groot jakarandas myself tans ná ’n lang tyd van beproewing ook in my blomseisoen vind. Dit kan waarskynlik die rede wees hoekom ek juis nou vir die eerste keer opreg die skoonheid van die seisoen kan waardeer.
Dit is asof ek ’n weerspieëling van my eie emosionele groei, gemoed en transformasie in die purperkleed van die jakarandabome die afgelope twee weke herken het. ’n Metamorfose waarmee ek mee kan identifiseer. ’n Metamorfose vir beide die boom en ek, gereed vir ’n nuwe lewensseisoen en ’n nuwe kleed, maar nie net sommer enige kleed nie – ’n purperkleed. ’n Kleed wat met karaktereienskappe van deernis, innerlike krag, transformasie en wysheid verbind word.
Dit beteken dus nie dat ek nou myself hoër ag nie, want die purperkleed word, wanneer dit verkeerd verstaan word, dikwels aan kwaliteite van trots en ’n gevoel van meerderwaardigheid gekoppel.
In die spesifiekie konteks wil ek graag die purperkleed se mooiheid, skoonheid en waardigheid beklemtoon en hoe die skakering van purper nie net die aankoms van die lente aankondig nie, maar die hoop wat dit skep.
Elke seisoen kom met uitdagings, maar die lente herinner ons aan nuwe lewe. Dis juis in die lente wat die jakarandaboom uit haar nate bars en ons met haar spoggerige kleurvolle kleed beïndruk. In die vorige seisoen was sy ook maar kaal, maar in Oktobermaand is sy in volle blom.
Ek weet nie hoe jou omstandighede vandag lyk nie, maar weet dat die lente jou nooi om te ontdek wie jy besig is om te word. Jou blomseisoen het alreeds aangebreek. Jou bloeisels mag dalk net nog nie sigbaar wees nie, maar jou wortels is geanker.
Hou moed en mag die vars Namibiese aroma van Oktobermaand en die purperkleed van die jakarandabome jou altyd herinner dat hoop jou anker is en seisoene net tydelik is.
– Gasskrywer
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie