Placido (Domingo) Hilukilwa
Placido (Domingo) Hilukilwa

Probleme bly probleme, maar. . .

SMN 30 jaar gelede
Sanet Pearson

Om met ’n ander mens se geld te dobbel en ’n groot prys te wen, kan in die meeste gevalle tot ’n verlies vir die wenner ly.

’n Vrou (ek gaan nie haar naam noem nie uit vrees dat haar ander skuldeisers miskien op haar gaan toeslaan) het minstens N$10 by een van haar kollegas geleen om te gaan “speel”, met ’n belofte dat sy die geld die volgende dag sou teruggee.

Sy “speel” en wen toe omtrent N$800 by ’n bekende plaaslike casino in Windhoek.

Sy het gedink dat dit nou die oplossing vir haar geldelike probleme was. . . maar eintlik was dit net die begin!

“Jy het met my geld gespeel en gewen. Daarom is ek geregtig op die helfde van jou wenprys,” sê die skuldeiser met ’n blink glans in haar oë.

“Ek sal jou N$10 teruggee soos ek belowe het – met 100% rente indien nodig,” kap die vrou terug.

Geen oplossing was in sig nie.

Vuishoue het amper geval en daar was ’n oorweging om die saak voor ’n “bemiddelende raad” te bring as die enigste uitweg tot ’n oplossing.

Hoewel die geskiedenis van die mensdom vol voorbeelde is van chroniese probleme, en ook mense wat (vergeefs) probeer het om oplossings te kry, bly dit nie net moeilik nie, wel onmoontlik, om ’n definitiewe oplossing vir enige probleem te kry.

Binne elke oplossing is daar ’n probleem wat ook opgelos moet word. En so gaan ons ad infinitum aan.

Die bostaande verhaal bewys dit mos duidelik!

Ja, mense soek altyd harde bewyse, nugtere feite en voorbeelde om te kan glo.

Namwandi (27 jaar voor Mandume Ndemufayo) was die hoof van ’n gesin (toe gesinne nog hoofde mag hê!) wat na die behoeftes van sy vroue en kinders omgesien het. Hy het ’n plan gemaak en meer visse begin vang vir sy gesin se verbruik. Ná ’n maand of twee, was die gesin egter vreeslik verveeld en ’n lid van die gesin het die hoek waarmee vis gevang word, weggegooi sodat hy, wat Namwandi is, iets anders – byvoorbeeld bees- of bokvleis – moet soek.

“Kannie elke dag net pap-en-vis eet nie.”

Ek glo steeds vas (of dalk nie) dat oplossings onmoontlik is.

Ná herhaalde probeerslae deur die eeue kan die mensdom nog nie eens die kleinste probleme baasraak nie.

Die feit dat mense aanhou probeer is egter bemoedigend.

Die Namibiese polisie het padblokkades tydens die Desember-vakansie landwyd opgerig.

Die doel: om misdaad te bekamp.

Die positiewe kant van padblokkades is die feit dat ’n polisieman ’n gesteelde voertuig, ’n gesteelde fiets en ’n gesteelde TV kan identifiseer en aan die regmatige eienaar terugbesorg.

Ongelukkig – en dit is die kern van die probleem – kan hy nie ’n voertuig, ’n fiets of ’n TV wat met gesteelde geld gekoop is, identifiseer nie.

Dit sal egter ook nie ’n oplossing wees om nie meer oplossings te soek nie.

Al is dit maar tevergeefs. – 2 Februarie 1996

Kommentaar

Republikein 2026-03-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer