Charlotte Beukes-Muundjua
Charlotte Beukes-Muundjua

Outydse looi het gewerk

Lank gelede, sommer baie laaank gelede voor dot-kom en haar slim kitstrawante, het ons gepraat van Meester en Juffrou by die skool, let wel: Met hoofletters. Die tyd toe sub A-lesse sommer op ’n gevlegte mat of karros gedoen was. Ons was letterlik gegrond. Die goue jare wat Juffrou haar lesse verby die neergelegde kurrikulum aangedurf het. Die dag se begin in gebed, hande vashou in ’n kring. Die vryheid om haar kinders maniere te leer; hoe om planne te plooi vir oorlewing. Seuns op die werf, meisies in kombuis. Netheid was ’n reël; skoon naels en ore, skoon sakdoek, jou netjiese gevlegde hare. . . die waardes van selfrespek en trots.

My mooiste herinnering was die leesklasse onder koelte bome (Juffrou Booysen en Olga Yon. . . . julle bly my “queens”).

Ek reken die vars lug en ongerepte natuur het ons jong breinselle op ’n hoër frekwensie gesit. Vandaar my waardering vir die ooptes en voëlgesang.

Telrame was nie maklik vir almal nie, maar Juffrou het altyd ’n plan gehad. Sy vat die telklas verder met Wilsons- en hotnotsklontjies, ons gunstelinglekkers! Dit het beslis gewerk. Tot vandag glo ek die brein werk beter buite formaliteite.

Die musiekjuffrou was pret. Ons dromme was blikke oorgetrek met binnebande, met bierbotteldoppies as simbale. Bottels gevul met verskillende vlakke water het die mooiste klank gegee.

Dié was die heilige laerskool jare toe ’n lat op die hand of agterstewe nie aanranding was nie, maar die stuur van jou akademiese boot, want ’n goeie skoolrapport was jou paspoort na ’n beter toekoms. Jy het jou huiswerk én verbeteringe gedoen ongeag hoe kort die kers was of jou derms brand van magau (kos was min).

Toe kom graad 1 in plek van sub A met ’n string nuwerwetse reëls: GEEN LATTE (corporal punishment); GEEN uitstappies (dis onveilig); en GEEN EKSTRAS anders as die voorgeskrewe leerplan nie.

Die kamma swaar-armjare word verryk dog diep verarm.

Laerskool pap-skouer-dof-kop-leerlinge gaan hoërskool toe. Dit raak chaoties.

Skoolrompe raak knap onder die boude (ek noem dit “Tyla-rompies”.) Hare word gekleur, geen linte wat pas by skooluniform. Seuns se hemde hang uit en as dit ingesteek is, raak sy onderbroek ’n “buitebroek”.

Onderwysers durf dít nie aanspreek nie, dan word die leerder se stem harder en dikker.

Hoe mis ek “die-sokkies-optrek”-vermanings. Nee wat, daar’s nooit weer ’n “Pippie Langkous” nie. Dis nou “Karin Kortkous” of “secret socks”. ZERO optrek – letterlik en figuurlik.

Onderwysers word ’n benoude kat gejaag deur muterende muise. Sy/hy moet stilbly, andersins moet sy koes vir ’n Score-blikkie. En dan juig die res asof in ’n konsert en selfone flits vir video’s.

Hoor my lied: Hulle moes nooit daai lat weggeneem het nie.

Die lat wat nie vrees ingeboesem het, maar ons verstand én wilskrag oop gemoker het. Jy kon nie durf gaan kla by die huis nie, want dan het Pa se egte leerbelt op jou lyf gekook.

Ek voel julle pyn, Juffrou/Meester. Jul roeping as nasiebouer het nou net nog ’n stresvolle werk vir ’n salaris geword. Julle hande in boeie, julle stemme gedemp.

Ouers, ek gevoel julle. Maar weet selfs die tawwe ouers met ’n brawe glimlag voel ook soos ’n gifbesope vlermuis in noodlanding op ’n vreemde planeet.

– Gasspreker

[email protected]



* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-10-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer