Oumas is nie altyd oud nie
Thia Weck – Kom toe mos nou die dag ’n ding agter. Daar is baie oumas in dié wêreld wat myle ver is van ’n kuise, snoesige tantetjie met mosbolletjie-wange en ’n knypbrilletjie.
Nou my eie liewe ouma is ook nie een vir heeldag agter breinaalde sit en af en toe deur die gordyne loer om te sien wat in die buurt aangaan nie. Sy behoort aan klomp komitees en stap gereeld ver ente na waar sy ook al wil wees – waar haar blosende kleindogter in skaamte die kop moet laat sak omdat sy in die motor sal klim om na die buurman toe te ry.
Maar dit was om die kuiertafel waar die gesels nou die dag na jonge oumas se kant beginne koers kry het en die lig vir my opgegaan het.
Die een begin glimlaggend vertel van ’n hupse ouma wat op haar dag geen nonsens gevat het nie. Nie dat dinge blykbaar nou enigsins anders is nie.
Met die bouery van een of ander aard het sy soos ’n wafferse vinkwyfie die mure omgeskop as dit nie presies volgens haar sin gebou was nie. Nogal.
En onthou jy, val die ander een in, met die bouery van ’n huis in Hentiesbaai moes die oupa ewe gedienstig die bakstene aandra terwyl ouma self die bouwerk behartig het. Praat van by kop in skaamte laat sak. Ek sal my hoed ook moet afhaal.
En onder die gelag deur vertel nog een van die ouma wat al stewig begin aanstap het in die jare tagtig, maar nog steeds so vol dinge was soos iemand in haar tienerjare.
Op ’n dag gaan kuier sy vir dié ouma. Kom daar aan, maar die wolf was duidelik eerste daar gewees. Geen teken van ouma nie.
Die deure en vensters staan wawyd oop en sy loop in, reg deur die huis en agter uit terwyl sy na die ouma roep. Hoor later ’n gevroetel in die agterplaas en roep weer.
Ouma hoor en begin terugroep, maar nog siende soekende niks. Tot sy opkyk en die onderpunt van ouma se rok hoog bo in die koejawelboom sien.
“Wat maak Ouma in die koejawelboom?” raas sy.
“Maar my kind, het jy nie geweet die lekkerstes is heel bo nie,” word sy teruggeraas.
Ja-nee, word erken. Dit was ’n anderste generasie daai. My ouma kom kuier nou die dag, gooi nog ’n stuiwer. En sal sy my nie so wrintie vra wanneer sy na ’n dansplek hier in Windhoek geneem gaan word nie.
Op die verteller se verbaasde stilte, antwoord die ywerige oumatjie vinnig dat sy meer in oefening is as wat dit lyk en dat sy nie moeg sal word nie.
Maar ouma, die musiek sal hopeloos te hard wees, soek die verteller vir oulaas uitkomkans.
Die jong ouma gee ’n moedelose sug. Wanneer sal dié jong generasie uiteindelik verstaan?
“Ai, my kind, kom die antwoord. Dis mos net ’n kwessie van jou gehoorapparaat regstel.”
Ons glimlag stil. Dié nuwe generasie het nog baie om te leer. – 26 Maart 1996


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie