Oudword (van die sissies)
Soos die spreekwoord sê, “oudword is nie vir sissies nie”, wat natuurlik na beide geslagte verwys.
’n Ongenaakbare vinger wat na almal wys.
Die vroue-oudword is ongetwyfeld dramaties. Natuurlik! Want ons is delikaat en ingewikkeld geskep om te reproduseer; om meer gevoellig te kan wees.
Die een oomblik galop jy op jou spogperdjie (unicorn) vars, jonk en gesond en die volgende oomblik vreet jy stof! ’n Jong spogperdjie is beslis vroulik, want net ’n vrou kan so geniepsig en onderduims wees. Sy gooi jou nie net skielik af nie, sy skop jou nog daar waar jy pateties in die stof lê.
Ja, op ’n dag raak jou spieël jou vyand en jy vra: “Nou vanwaar kom al die flappe?”
Dis oogflappe, veral as jy aan die effe kant is.
Dis armflappe (die onderarm vleise), wat ook “skelvleise” is. Het julle al ’n kleurling-/baster-tante sien skel? Dis ’n beduie dat daai flappe wapper! Jy hoor nie meer die skerp stem nie, want die woelige flappe vat die koek!
As jy ’n outydse histerektomie gehad het (operasiesnit reg bo die blaas), dan sit jy later met ’n maagflap, skoon soos ’n 4x4 se modderflap (mudguard). Boonop het die maagrolle meer geword en jy lyk soos ’n outydse drielaag-troukoek.
Sommige kry ’n flappie onder die ken/keel, amper soos die brahman-bees of kalkoen.
Die wange raak ook afgerem; weereens as jy aan die dunner kant is, lyk jy permanent hartseer.
Die buurste het letterlik gaan rus, leeggedrink na die derde kind en platgeslat van hormoonveranderinge. Twee rustende vennote (just hanging in there until death do us part!).
So gaan ons flap-flap deur ons 60’s; kan my glad nie die volgende dekade voorstel nie. Dan is jy seker heel onfatsoenlik (shapeless). Gereken dit was erg toe jy jou sexy middeltjie verloor en skielik madam SpongeBob word? Aikona, die Amoeba-stadium wag.
Maar ons sissies bly met ’n ruggraat van “don’t give-up”. Ons verander ons kleredrag om steeds gemaklik en fraai te voel. Daar’s mos genoeg tantes met Singer-naaimasjiene wat per lyf kan ontwerp, of hoe?
Jy aanvaar jou “flapperasie-zoom-sakke-zazi”-spel en leer om te lag oor die onvermydelike. Ons jeugtrein is hoeka weg uit sy stasie, spoorlyn opgeroes en intussen afgebrand; die as deur die ooswind moertoe gewaai!
Tog bly die mooi herinneringe as jy die ou modes sien herhaal; as julle die skoenedoos met ou kiekies weer kyk. Dan sien jy jouself in jou geestesoog as ’n spoggerige meidjie in ’n rooi polkadot somersrokkie met ’n kastaiingbruin krulledos, net tot jy verby ’n winkelvenster loop en besef: “Ek is ’n Amoeba.”
Toodles my meisies! Ons is in ’n lekker era van “worry-spaghetti-want ek-hettie”.
’n Era van vryheid, saamlag oor flaters, konsentreer op dieper dinge en weet iewers het jy wel ’n positiewe verskil gemaak.
Jou boom met goeie vrugte sal aanhou dra as die lewensperdjie jou finaal afskop tot diep in jou sandbed.
– Gasskrywer
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie