Aurelia Afrikaner
Aurelia Afrikaner

Oudword

Aurelia Afrikaner

Ons ouer mense wil deesdae glad nie meer oud lyk nie. Dis amper asof oudword nou iets is waarvoor jy moet jammer sê. Jy mag grys word, maar jy mag nie plooie hê nie. 

Jy mag ouer word, maar jy mag nie lyk of jy al lank op die aarde rondloop nie. Dis soos: Word oud, maar doen dit stilletjies – sonder bewyse.

My eie ma, het net die anderdag my uit die bloute aandagtig aangekyk en gevra: “Is daar nie êrens ’n plek waar ek inspuitings kan kry om my plooie op te pop nie?” 

Ek moes letterlik lag. Nie omdat ek haar wou beledig nie, maar omdat dit so absurd was. Ek het by myself gedink: Ma, jy is al oor die 60, op pad 70’s toe, hoekom wil jy nog steeds soos iemand lyk wat pas matriek geskryf het? Jou jongdae is verby. Dis nie ’n straf nie, dis net die lewe.

Moenie my verkeerd verstaan nie, ek sê nie ouer mense moet ophou om mooi te lyk of ophou om na hulself te kyk nie. Nee, inteendeel. Kyk mooi na jouself, trek netjies aan en ruik lekker, asseblief! 

Maar hierdie ding om elke plooi te wil uitwis, dis amper asof hulle skaam is oor die lewe wat hulle geleef het. Daai plooie het mos stories. Dis lagplooie, stresplooie, “ek-het-’n-kind-grootgemaak”-plooie, “die lewe was nie altyd maklik nie”-plooie.

Ek meen, as jy 70 is en jy het geen plooie nie, dan lyk dit vir my jy het, óf nooit gelag nie, óf jy het nooit bekommerd geraak nie en ek glo nie een van daai twee nie. Die lewe los sy merke. En dis oukei. Dis eintlik mooi.

Ons leef in ’n tyd waar almal jonk wil bly. Alles moet “anti-aging” wees, asof ouer word ’n siekte is. Maar dis tog ’n voorreg om oud te word. Nie almal kry daardie geleentheid nie. Elke plooi is ’n bewys dat jy nog hier is, dat jy nog asemhaal, dat jy nog deel is van die storie.

Ek dink persoonlik ons moet bietjie rustiger raak met hierdie hele jaagtog om jonk te lyk. Ek voel soms mense is so besig om hul ouderdom weg te steek, dat hulle vergeet om hul lewens te leef. 

Dis asof jy skaam is vir die jare wat jou gevorm het in wie jy nou is. Ek wil eendag oudword met my gesig soos dit is, met al sy merke en lyne, want elkeen gaan my herinner dat ek geleef het, gelag het, seergekry het en weer opgestaan het. Ek wil nie my verlede met ’n spuitnaald uitvee nie. Ek wil dit soos ’n medalje op my gesig dra.

So ja, ek sê maar net ouer mense moet ophou om teen hul plooie te baklei. Los die inspuitings, los die “op-pop”-stories. 

Dra jou ouderdom met trots, julle verdien dit. En as jy regtig iets wil “op-pop”, laat dit jou glimlag wees. Want ’n ou gesig met ’n groot glimlag is honderd keer mooier as ’n gladde gesig sonder vreugde.

As ek eendag 70 is en my gesig beweeg minder as my selfoon se skermbeskermer, gaan ek ook begin bekommerd raak. En nog iets: as jy die plooie heeltemal uitvee, hoe gaan jou kinders en kleinkinders jou uitken? Hulle gaan dink jy is ’n nuwe buurvrou wat net kom groet het.

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-08-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer