Oudedoos-verrassings
Ek sê maar net (30 jaar gelede)
Geen verslaggewer vergeet sy of haar heel eerste storie nie (hoe simpel ook al) of jou grootste blaps in jou joernalistieke loopbaan nie. Ook nie jou eerste groot “scoop” met “byline” en al op die voorblad nie.
My heel eerste storie was veronderstel om oor veteraanmotors te gaan wat by ’n plegtigheid uitgestal sou word, maar toe loop ek my vas in ’n interessante karakter. Oom Willie en al sy besittings word my heel eerste storie.
Ek moes net ’n foto by oom Willie se huis van die veteraanmotors gaan neem, maar ontdek toe ’n reuseversamelaar van oudhede (en “junk”).
Lekker bossietee gedrink én hy het spesiaal vir my koek gebak. Daarna volg die groot vertoon: die wys van al die goeters uit die oude doos – die hele huis en die hele jaart vol. Heel eerste al sy veteraanmotors en Harley Davidson-motorfietse uit die jare toet en ’n stokoue petrolpomp. Baie indrukwekkend.
Die antieke meubels, traporreltjie, blikke, boksiekamera en Hollandse Bybel het my die tiende gebod van begeer skaamteloos laat oortree. Die res van die versameling bestaan uit alles onder die son wat sy hele “museum” volstaan: sigaretaanstekers, uitveërs, penne, koffiebekers, glase met prentjies, pennemesse, patrone, seëls, vingerhoedjies, muntstukke, plate, vuurhoutjiedosies, teelepels, horlosies, poppe, lampies, dasse, medaljes, hoede, ensovoorts, ensovoorts. Meestal wit olifante wat stof sou opgaar, maar nie in oom Willie se huis nie. Toe ek uitvra oor die stofkwessie, sê oom Willie dat hy al die lange jare as wewenaar self sy huis skoonmaak.
Oom Willie het my vir ’n rit in een van sy veteraanmotors deur die dorp se strate geneem en ek mag selfs ’n entjie bestuur het. Hy het my ’n motor laat kies wat ééndag my troukar kan wees en belowe hy sal spesiaal ’n manelpak met ’n rondebolkuil vir die “okkasie” aantrek.
Met nog twee koppies tee en ’n sny wortelkoek vertel oom Willie my sy lang lewensverhaal met ’n veraf uitdrukking in sy oë.
Hy spog met uitknipsels uit tydskrifte en koerante waarin hy verskyn het. Hy vertel nederig hoeveel drenkelinge hy uit die dam by Olifantsnek gered het: hoe innig lief hy vir sy oorlede vrou was en nog nooit weer na ’n ander vrou gekyk het nie: hoe die tye verander het en die wêreld in sonde verval het. Hy het sy hele huis en al sy (kosbare) besittings in sy testament aan die kerk bemaak, want hy het geen kind of kraai wat dit kan erf nie.
Net voor my vertrek het hy ’n gebed vir my gedoen sodat ek veilig by die huis moet aankom. Ek het oom Willie nooit weer gesien nie. Hy het my net gebel en bedank vir die artikel in die koerant.
Ná meer as twee jaar het ek al vergeet hoe oom Willie se motors lyk en hoe sy traporreltjie klink. Sy mank stappie, kwaai honde en die Bybelversies wat oral opgeplak was, is basies al besonderhede wat ek nog onthou. O ja, en hy het kaal meisies teen sy toiletmuur gehad! Wonder wat die kerk daarmee gaan doen? – 29 Augustus 1995

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie