Ou vriende moet waardeer word
Van Schaik se Verklarende Afrikaanse Woordeboek verduidelik mooi dat ’n reünie die “samekoms van oudstudente van dieselfde inrigting” is.
Wat is dan nou ook lekkerder as om ou kennisse raak te loop en vir ure te gesels en te redeneer oor die loop van die lewe en hoe dit verskil van amper vergete klaskamerdrome.
Nuuskierigheid is baie keer die grootste oorweging om te gaan. Net om te sien hoe lyk die eerstespan se rugbykaptein wat jou drome gevul het en wie se voorletters oral op die spieël aan die binnekant van jou kas geskryf was. Om nie te praat van die gewildste onderwyser wie se vak jy op die punte van jou vingers geken het nie en nie kon wag dat die klasrooster jou na sy klaskamer bring nie.
Die indruk wat altyd van dié tipe van samekomste op die televisie geskilder word, is ’n rooskleurige prentjie van mooi meisies wat minder mooi geword het en die lelike eendjie wat in die swaan verander het en met die hoofseun getroud is.
Ou vetes word somer met die eerste aand opgelos en geskeides, hartgebrokenes en raksitters vind hul liefdes in mense wat vir jare langs hulle op die skoolbanke gesit het. Gesprekke wissel van die nuwe motor in die motorhuis, die hond wat verlede week teen katgriep ingespuit moes word, ’n moontlike verhoging by die werk, ’n huis met bome vol lowergroen blare en ’n skaduhoekie op die rand van die tuin met ’n bankie reg vir lees en dink en die baas wat te veel eis en die eersteling wat sukkel met koliek.
Maar as daar begin word met “Onthou-jy-nog’s” en “Wat het geword van. . .? en “Het jy toe dit gedoen wat jy gesê het jy gaan?” vlieg die tyd verby en die reuk van kosblikkies en ’n skoolbus vol Deep Heat ná ’n wegwedstryd op ’n plattelandse dorpie kom skielik nader.
Dis die lékker van ’n skoolreünie – die onthou. Die onthou van dae wat eintlik sorgloos en kommervry was. Die onthou van ’n eerste liefde, eerste motorfiets, eerste “sak” en die eerste groot hartseer. Die onthou van rondjaag met Pasola’s op soek na blomme vir die matriekafskeid. Die onthou van Interhoër’s en hees kele en rooigebrande neuse ná ’n Kleuresport-byeenkoms. Die onthou van saam wroeg en wakkersit oor ’n biologie-vraestel. Die onthou van styf teen mekaar sit in die wintersonnetjie met wolsokkies afgerol tot ’n grys hopie op jou skoene.
Die onthou van vorms begin invul vir universiteit en wonder en hoop dat jy darem saam met ’n bekende in die koshuis sal beland. Die onthou van die maandelange beplanning vir daardié rok vir die matriekafskeid. Die onthou van die naels kou en slapelose nagte oor die eindeksamen. Die onthou van die laaste dag by die skool. Die onthou van die groet van mense wat ’n tyd en ’n lewe gedeel het toe finansiële bekommernisse en woonstelhuur en motorpaaiemente iets ver in die toekoms was.
Dis lekker om so te onthou en nog lekkerder om dit saam met mense te doen wat deel van hierdie onthou is.
Liewe leser, as daar dus ’n reünie oor jou pad kom, gaan en geniet die oomblikke van terugkyk in die verlede. Dit is die kyk werd.
*Dié een is vir Ena, André en Marcelle – tot ons weer ontmoet. – 3 Julie 1996


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie