Operasie Kruip in volle swang
Baba het begin kruip. Maandag. En dit het vir groot opwinding in die Mouers-huishouding gesorg.
Dis te oulik – sy is op haar knieë, en dan gebruik sy haar een voetjie om haarself vorentoe te druk. Vir nou het sy in die sitkamer begin rondbeweeg en ontdek dis vreeslik lekker om kaste oop te maak.
Daar is een spesifieke kas wat haar gunsteling is, want dit het ’n klomp koerante in. En as ons nie gou genoeg beweeg nie, hoor ons net ’n groot geraas en in ’n japtrap is daar ’n stukkie papier in die mond.
Die suster by die immuniseringskliniek het gesê haar mond is “die hoofkantoor” – alles moet eers deur die hoofkantoor gaan vir goedkeuring. En die hoofkantoor werk oortyd. Papier, speelgoed, ’n verdwaalde krummel op die vloer – alles word getoets.
Maar gister het baba ’n nuwe ontdekking gemaak: Die kombuis. ’n Hele nuwe wêreld. Fase twee. Sy het nog nie heeltemal besef daar wag hordes kaste, potte, panne en die kruideniersware om uit te pak nie. Ek hoor al klaar die simfonie van metaal wat teen teëls kletter.
Ons het hier in die huis gelag en gesê: “Let the games begin.” Want nou begin die regte toesig. Mamma is sekuriteitswag, skoonmaker en die noodreaksie-eenheid – alles in een. En enigiets wat op die vloer lê, gaan reguit hoofkantoor toe.
En tog, te midde van al die waaksaamheid en oop kaste, vang ek myself dat ek net sit en kyk hoe sy haarself vorentoe druk met daai een voetjie. Dis skaars tien maande gelede dat sy ’n sagte, pap babatjie was wat net in my arms gelê het. En nou maak ons al weer reg vir haar eerste verjaardag oor twee maande. Want hoe vlieg die tyd?
Na drie kinders weet ek al hoe om kaste te beveilig en breekgoed hoër te skuif. Ek weet die huis gaan deurmekaar wees en die potte en panne gaan nie lank op hul plekke bly nie. Maar wat ek nog nie geleer het nie, is hoe om tyd stadiger te laat beweeg.
Elke klein skuif vorentoe voel soos ’n oorwinning, en dis amazing om te sien hoe sy haar selfvertroue bou en hoeveel vinniger sy beweeg.
Net nou die dag was ons so opgewonde toe sy haar handjie waai wanneer ons “bye-bye” sê.
Ai, dié Mamma se hart kan nie byhou nie.
Een van die dae loop sy die hele huis vol, en voor ek my oë uitvee, is sy ook op pad skool toe.
Grootword wag vir niemand nie. – [email protected]
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie