Oop hand vir ’n bak hand
Sê maar net 30 jaar gelede
Chris Jacobie – Dit loon ’n mens soms die moeite om stil op ’n plek te sit en rondom jou te kyk en in te neem wat gebeur.
’n Straatkafee in Madrid het gewys dat ’n mens se styl afhang van die gemeenskap waaruit jy kom.
Vroegaand, wanneer die Spanjaarde se dag eintlik breek, besluit ek om by een van die straatkafees te gaan stilsit.
’n Boemelaar het ’n kort rukkie tevore en ’n ent weg van my tafel, met sy rug na ’n winkelvenster en sy gesig na die verkeer, op sy knieë plaasgeneem met ’n skoendoos wat presies in een van die plaveiselblokke voor hom pas.
Hy het geen geluid gemaak nie, maar doodstil en roerloos met sy hande langs sy sye en sy kop omlaag na die skoendoos voor hom gestaar in die hoop dat verbygangers ’n paar Pesettas daarin sal gooi.
Heelwat toeriste, seker as gevolg van die vrygewigheid weens die Spaanse wyn, het gegee. Van die Spaanse muntstukke is groot en met die gooislag verskuif die skoendoos elke keer so ’n aks van ’n kwart van ’n millimeter.
’n Onbeduidende skuif.
Wanneer die muntstukke die skoendoos sowat ’n millimeter verskuif het, beweeg die bedelaar vir die eerste keer sonder dat hy sy oë van die geldpot afneem.
Hy strek sy hande net effe vorentoe en met sy vingerpunte aan die kante van die skoendoos skuif hy dit dat dit presies weer in die plaveiselblok pas.
Dit is styl.
Dit getuig van ’n bedelaar wat trots is op hoe hy mense oorreed om van hul geld ten gunste van hom ontslae te raak.
Hy gee die indruk van iemand wat nie sommer ’n ou hoed onder enigiemand se neus wil druk nie, maar dat hy ’n ernstige bedelaar is wat respek het vir diegene by wie hy bedel.
In ’n stadium, ná ure op sy knieë, bedaar die voetgangerverkeer effens en die geld val nie meer sy skoendoos uit sy afgebakende gebied uit nie.
Ek plaas ’n weddenskap teen myself dat hy gaan opstaan en na groener weivelde op een van die markpleine sal vertrek voordat nog tien minute verby is.
Selfs hier verloor ek die weddenskap teen myself en was op die punt om self ’n geldstuk te gaan ingooi om die man nie moed te laat verloor nie, toe daar skielik weer ’n stroom Spanjaarde op die sypaadjie is wat uitdeel na die bedelaar se kant toe.
Toe besef ek die man ken sy mense. Hy weet seker dat hulle almal in die bioskoop was en dat vasbyt deel van die sorge van die bedelaarsbedryf is.
Die indrukwekkendste was dat hy nooit opgekyk of sywaarts geloer het in ’n poging om vas te stel wat sy sake-moontlikhede is nie.
Hy was ’n toonbeeld van selfvertroue en ’n kenner van sy vakgebied.
Met my opstaanslag stap ek ook verby en gooi ’n paar Suid-Afrikaanse sente in, in die hoop dat hy sal opkyk en my vra wat my planne nou eintlik is, want dié aalmoes is nutteloos.
Hy roer nie. Dit is asof hy vir my wou sê dat ek nie geselskap moet soek nie. Ek probeer steeds gesels en verduidelik aan myself, maar eintlik vir sy aandag, dat ek ’n fout gemaak het en gooi ’n paar Pasettas in. Steeds kry ek geen reaksie nie. In daardie stadium is die stroom by die skoendoos op sy dikste en ek blokkeer so half-en-half die voornemende skenkers.
Selfs dit laat hom nie ’n oog knip nie en die volgende oomblik staan hy op, kyk nie eens na my nie, en gaan val vier tree verder op sy knieë. Plaas sy skoendoos weer presies in die middel van die plaveisel en kyk toe vir die eerste keer in my rigting.
Die boodskap was duidelik.
Ek moet my narstreke in sy omgewing los, want dit is sleg vir besigheid.
Hy is besig met die oudste beroep op aarde en op so ’n wyse asof hy die bedelaarsberoep uitgevind, vervolmaak en persoonlik in stand moet hou.
Gee was toe ’n plesier.
– 22 Oktober 1992

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie