Onverwagse snikke uit die hart
Ek ervaar gereeld oomblikke van emosionele intensiteit wat my uit die bloute probeer oorval.
Dit mag ’n liedjie wees wat ek per abuis op die radio hoor, ’n storie wat ek raakloop, ’n herinnering wat my onkant vang, selfs ’n onskuldige praatjie met iemand wat ek teëkom.
Ek kon nog nie bepaal wat die sneller van hartseer so onverwags kan trek nie, maar ek voel die pyn. Die trane dam agter my oë op en dreig om vir geen rede tot uitbarsting te kom nie. Die snikke hou ek met moeite in en ek druk die moedeloosheid terug, om nie die donkerte toe te laat om by my mond te ontsnap nie. Ek haal diep asem en bring my gedagtes terug na die hede.
Ek sluk die seer af en sit die skielike amper-uitbarsting agter my. Ek gaan aan met my lewe asof dit nooit gebeur het nie.
Ek weet nie wat ek anders moet doen nie.
Daar is nou geen rede vir my om so hartseer te voel nie.
Ek waardeer die gawes wat die Here in my lewe uitstort. Daar is so baie om voor dankbaar te wees, so baie om te vier.
Tog is dit asof senuweepunte in ’n oop rou wond getokkel word en nou en dan word ’n snaar geroer wat deur my siel weerklink.
Die seer van die wêreld is rondom ons. Die onreg, die lyding van onskuldiges, die uitbuiting van die magteloses, die verslawing van ons medemens, die diep donker bodem waarna ons almal kan wegsink, is deesdae blootgelê. Mens hoef nie meer die bose uit te lig nie, dit word sommer in jou gesig gesmyt.
Ons vernietig die aarde – ons enigste aarde – ons vernietig ons medemens, ons vernietig diegene wat ons moet liefhê, ons vernietig ons natuur, ons vernietig onsself. Is daar ooit eens hoop vir die mensdom? Moet ons noodlottig so afdwaal? Is ons werklik maar net diere wat voorgee hulle weet hoe om regop op twee bene te staan?
Ek stem nie daarmee saam nie.
Ons moet veg teen die verduistering van die lig! Ons moet ons menswees bewaar.
Dis reg om die hartseerkrete van die wêreld te hoor, maar hopeloosheid mag ons nie oorval nie.
Wees self die hoop – as jy moet. Bring self die lig terug. Steek ’n kersie in die donker aan.
Onthou jou geestestoestand skyn helder en het ’n impak op jou naastes.
Hou die blink kant bo, lui die ou spreekwoord.
Hoop oorleef.
Geloof trek jou deur.
Die liefde oorheers in die einde.
Beter dae kom weer, so seker soos die son weer sal skyn.
Vir nou moet ons maar aanhou en uithou. Vir nou moet ons maar aangaan.
Die stryd van die lewe eindig eers met die dood. Tot dan kan ons steeds ’n verskil maak, al is daardie verskil tog so klein. Dit is nog iets werd, steeds die moeite werd, dalk die wêreld werd.
Sluk maar daai trane. Ja, die lewe is hard, selfs harteloos, maar ek is nie. Ons is nie sonder meegevoel nie – nog nie. Ek verduur maar die werklikheid. Ek hoop steeds die beste vir julle almal.
Sterkte daar. Ook dit sal verbygaan en die vreugde sal terugkeer. Troos jouself, my hart. Troos jouself.
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie