René Hugo
René Hugo

Onthou. . . om te onthou

Ek en Manlief het nou albei die groot tagtig geslaan. Vir my was dit nogal ’n slegte opgaaf – amper soos ’n onvermydelike einde.

Wat is daar dan nou nog om te doen? Toe lees ek dat ’n rekenmeester waarsku “die dood is ’n treinongeluk, veral vir die agtergeblewenes en die langslewendes”. En dadelik besef ek daar is wel heelwat wat gedoen kan word. So vaar ons toe hier in die ou staalkabinet in en ons verdiskonteer ons huisie, meubels en 20 jaar oue kar. Alles in ’n nuwe testament: opgeskryf, geteken en getjap. Sodat die kinders en kleinkinders ons in liefde kan onthou.

Maar toe bring hierdie proses my by ’n ander insig: ons laat nie net besittings agter nie. Daar is ook iets soos die onthou van ouer-kind-ervarings, wat weer spore loop na die doen en onthou van volgende geslagte.

Ons seunskind is gebore nadat ons 14 jaar getroud was (en amper die “naughty forties” gemis het!). Dus was dit ’n heel nuwe ervaring waarna lank uitgesien is. Ek dink agterna die Here het sekerlik besef dat hierdie huwelik vars bloed nodig het. . .

Die aand nadat ek en baba uit die kraamhospitaal gekom het, slaap ons nuwe ouers rustig met die wiegie langs ons bed. Toe baba huil, tel ek hom ewe kalm op en neem hom saggies na die badkamer waar ek, by die maanlig van buite, (om Pa nie te pla nie), sy doek omruil.

En skielik is die doek en babakombersie met bloed besmeer! Ag help tog – hier het die dom Ma hom nou lewenslank beskadig! Ná minute van spanning en trane besef ek dat dit slegs die laaste stukkie naelstring was wat op sy eie tyd “los” gekom het. Maar so het die nuwe ma ’n eerste onthou-les geleer: moenie arrogant-selfversekerd wees in die hantering van jou kind nie!

Dit is eintlik wonderlik hoe swak voorbereid en/of onopgelei ouers is vir hulle belangrikste lewenstaak – om hul kinders groot te maak. En ook hoe verreikend, selfs oor geslagte heen, hierdie optrede onthou word.

Ek lees dat Johan Bakkes die volgende vertel uit sy tienerjare:

“. . . ek dink ek het op my Ma geskree en toe die eerste keer blinde woede in my Pa se oë gesien. Ek het besef vandag foeter hy my met die vuis en ek begin hardloop. Hy’t my in die hoek van die tuin vasgekeer, sy hande oor sy gesig gevryf en omgedraai. Dit was die grootste drag slae wat ek in my lewe gekry het.” Hierdie Pa het iets verstaan van kinders – wat Johan onthou het.

Deur die genade leer ouers meestal tog wat om te doen. Of – soms belangriker – wat om nié te doen nie. Daar is ’n verhaaltjie hieroor (vertel deur Koos Kombuis) wat my bybly. Koos het vanaf graad 1 graag aan atletiek deelgeneem, maar altyd laaste gekom. Een maal het hy gesien dat sy Pa by die wenpaal gestaan het, toe omgedraai het en nooit weer na sy atletiek kom kyk het nie. En ook nie deel van sy seun se lewe geword het nie. Nadat hy self ’n seun gehad het, was Koos by elke wedstryd, al kom sy seun ook elke keer laaste. Want hy het onthou.

Om terug te kom na ons eie kindgrootmaak-ervarings: seunskind het, desondanks sy ouers se onervarendheid groot geword en is huis-uit: na sy eie huis. Om vir ons met skoondogter en kleinkinders selfs groter vreugde te bring. En so het ons “agtergeblewenes” uitgebrei en die testament het al hoe ingewikkelder. Wat ons aardse goed betref, probeer ons nou om die lewe vir dié wat agter gaan bly, maklik te maak. Ons pak (met vreugde) kaste uit en rangskik besittings: “Hiérdie is net reg vir oudste kleinkind – en dié ding pas mooi by jongste kleinkind, – en dit moet na Sus Marie toe gaan.”

Totdat ons skielik ons geliefde boeke onthou. En so ruk ons tot stilstand, want Manlief vra: “Is daar nie dalk boekrakke in die hemel nie?”

– Gasskrywer

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-06-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer