No Image Caption

Ons taal

Baba Hermes
Ek is deel van die bykans uitgestorwe spesie wat Tik as ’n vak op skool geneem het. Tydens my matriekjaar, kom my ma eendag met so ’n klein metaaltassie by die huis.

“Dit is vir jou, Susan.”

Ek vroetel om die tassie oop te kry: ’n volledige, waardige tikmasjien – byna sê ek – in ’n neutedop!

Ek sukkel aanvanklik om my vingers op die kleiner toetsbord in te pas, maar baie vinnig raak ek en my baba aan mekaar gewoond en ek tik vrolik my skoolaantekeninge, opstelle, take en briewe. My tikakkuraatheid neem toe want ek kry mos nou baie meer oefening!

Na matriek gaan my mooie tikmasjien saam met my universiteit toe. Ek kan voortgaan om take en aantekeninge te tik.

In ’n tyd toe die meeste studente hulle take uitgeskryf het, tik ek my take. Ek moet gereeld by die boekwinkel papier, tiklinte en flaterverf gaan koop. Wanneer ek met vakansies huis toe gaan, op Keetmanshoop in die suide van ons land, gaan my Hermes Baby saam.

Aan die einde van my derdejaar, pak ek vir tikmasjien in my tas met my klere en boeke en ... ja, sowaar: ’n pakkie seeppoeier! Toe ek by die huis kom en my tas oopmaak, het die seeppakkie oopgegaan en alles is bedek met Omo! Arme Baba Hermes het seep tussen sy toetse en ingewande.

Ek dink die slim plan uit om my tikmasjien onder ’n lopende kraan uit te spoel. Dit is net skuimbolle! Ek sit die baie skoon masjientjie buite in die lekker warm son.

“Word nou droog!” sê ek en gaan red die res van my bagasie.

Toe ek ’n dag of wat later my baba mooi inspekteer, sien ek tot my ontsteltenis dat al die toetse en armpies... alles wat metaal is, het geroes: Onherstelbaar vernietig. Verdrietig en skuldig sit ek die deksel op en gaan bêre die baba onder in my hangkas. Aai.

Ek lees onlangs dat die Hermes Baby een van die kleinste draagbare tikmasjiene is wat ooit gebou is en dat dit net 1,8 kilogram weeg. Hierdie masjiene is vanaf 1930 tot in die sewentigerjare in Switzerland, Brittanje, Pole, Frankryk, Italië en Brasilië gebou. Beroemde skrywers soos Ernest Hemingway, John Steinbeck, Sylvia Plath en Ian Fleming (wat James Bond geskep het!) het van hulle grootse werke op ’n Hermes Baby geskryf.

En hier kom ’n barbaar van Keetmanshoop en vernietig die ikoniese masjien in ’n Omo-skuimbad.

Ek is jammer, Baba.

Susan Alexander

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

[email protected]

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-03-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer