No Image Caption

Ons taal

Aanvaar
Die klem in ’n woord verander dikwels die betekenis.

Die tyd van die jaar laat die woord “aanvaar” my diep nadink. Ons is mos nou in daardie tyd wat ons maar moet áánvaar, vorentoe vaar, verder reis. Die jaar het skaars begin. Die hele reis lê voor. As ons nie aangaan of voort vaar nie, stagneer ons. Dis eintlik om asem te haal, maar nie te lewe nie.

Om aan te hou met beweeg is natuurlik glad nie genoeg nie. Ons moet beslis aanváár dat ons gráág wil verder reis. Ek wil die nuwe jaar, geleenthede, uitdagings met ope arms aanvaar. Dit klink klaar meer entoesiasties. Dit laat voel my tevrede geesdriftig. Skielik dink ek elke nuwe dag aanvaar ek as gawe.

Alle gawes is nie altyd ewe welkom nie. Van sommige gawes hou ek meer as van ander. Maar as ek my perspektief positief verskuif, aanvaar ek wat ek ontvang. Kool is dalk nie so ’n gawe geskenk as biltong op my bord nie. Aanvaar beteken ek is ook dankbaar oor die kool. Dis gelukkig groen soos ons veld en nie vaal en verdroog soos biltong nie!

As ek die jaar áánvaar, wil ek dit met wawyd oop arms doen. Omdat ek die jaar en sy uitmeetseltjies aanváár, ontvang ek dit met dankbaarheid en maak die beste daarvan.

Ek wil soos ons veld op ongewone wyse reeds van Desember na Januarie tot in die saad groei en wuif vir die wind en die reën wat oor my stort. Ek wil voluit voel hoe die rimpeling van golwende groen deur my trek met vreugde al in die voorjaar.

Dr. Nicoline Woest

Woordspoor K7

[email protected]

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-01-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer