petrichor
petrichor

Ons Taal

Hallo my Pa

My kollega, Chrisna, het mos so briewe geskryf vir haar ma. Ek weet nie of haar ma ooit die briewe gekry het nie, maar ek is seker dit het op ‘n manier gehelp, want sy het nogals baie sulke briewe geskryf. So, my Pa, ek probeer ook maar.

Swakop is al lekker vol mense, soos dit moet wees oor Desember wanneer die land kantel. Kanaal 7 het weer ‘n straatprater wat ons op hoogte hou van al die dinge, en die sosiale media gons ook daaroor. Maar weet Pa, dis steeds lekker om voor die

winkelsentrum se kennisgewingbord te gaan stilstaan wanneer die papiere my al wapperend naderwink. ‘n Mens kan gaan verf langs die see. . . Daar is verskeie markte. . .

Iemand gaan Johnny Cash se liedjies laat herleef – ek wonder of mens in hierdie moderne tyd darem nog kontant kan betaal vir dié vertoning – ek giggel vir my eie grappie. Woordgrappies was nog altyd deel van ons familie. Kleintyd was Pa hoofsaaklik die bron daarvan, maar Pa se kleinkinders speel lustig voort. Daar is soveel pret in die woord!

Maar ai my Pa, Swakop is leeg sonder Pa. Soos Sonja se Kaap sonder haar Jantjie.

Dalk was sy naam Jantjie Kontant. Hierdie keer werk my grappie nie. Ek kyk af na my voete. Pa sou my skoene Jesus-plakkies genoem het. . . Jesus. . . Dit tref my opnuut dat Hý met mensgemaakte plakkies in ons stof kom loop het. En daarom troos dit my dat Pa nooit weer die brand van ‘n Brack-doring hoef te voel nie. Hy het óns voete kom was, sodat elkeen van ons die kans kan hê om eendag kaalvoet voor die Koning te kan wees. Geseënde Kersfees, my Pa.

Petronella F Genis

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer