ons taal (1)
ons taal (1)

ONS TAAL

Mandy Rittmann
Ons Taal: Afrikaanse Skatkis

Dis daardie tyd van die jaar. . . ’n tyd van welwillendheid en omgee. Ek raak stil en besef, hierdie was ’n merkwaardige jaar. . . Afrikaans is ’n hele eeu oud! Honderd jaar van klank, kleur en kultuur, honderd jaar van leef, lees en leer. Ek wil ’n huldeblyk bring aan al die formidabele skrywers en digters en ’n glasie klink op hul blywende bydraes tot die Afrikaanse letterkunde. Jul gees leef voort in jul woord!

Eugene Marais (1871-1936), bekend vir sy klassieke gedig Winternag. C. J. Langenhoven (1873-1932) ewig bekend vir Die stem van Suid-Afrika. C. Louis Leipoldt (1880-1947) se gedigte, Siembamba, Oktobermaand en Kom gee vir my polvyntjie, het tydlose status verwerf. N. P. Van Wyk Louw (1906-1970), die eerste skrywer wat vir al drie genres die Hertzogprys gewen het, wel bekend vir Raka. D. J. Opperman (1914-1985), een van die invloedrykste digters en samesteller van die bekende Groot Verseboek. Elizabeth Eybers (1915-2007) bekend vir haar mooiste gedig Maria, en die eerste vrouedigter wat ’n digbundel gepubliseer het. Ingrid Jonker (1933-1965) se kort, maar kragtige lewe, los ’n groot leemte in die digwêreld. Haar roem is te danke aan haar kort, suiwer liriese gedigte van verlange en verlatenheid. Breyten Breytenbach (1939-2024) sal ewig bekend wees vir sy mistieke taal in sy liefdesgedigte, Allerliefste, ek stuur vir jou ’n rooiborsduif. Adam Small (1936-2016) se gebruik van Kaaps, maak hom die voorloper van Bruin Afrikaanse digters, bekend vir sy drama, Kanna hy kô hystoe. Julle is maar enkeles van ons Afrikaanse skatkis. Julle was, is en sal altyd die hartklop van Afrikaans wees!

Adéle van Niekerk

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer