No Image Caption

Ons taal

Is vakansie tans jóú gunstelingwoord?
Hier in die Suidelike Halfrond is dit vakansietyd. Ons sien dit in die winkels se dekor, ons hoor dit in die gesprekke wat ewe skielik ligter is as ’n paar maande gelede, ons beleef dit sommer net in die atmosfeer van somer, son, sand, see en ontspanning wat in die lug sweef.

Hierdie kostelike Jaco Jacobs-gedig,“My gunsteling f-woord”, word die afgelope tyd wyd gedeel:

My gunsteling-f-woord is nie in die woordeboek nie.

Pa lag en sê: “Jy’t dalk nie op die regte plek gesoek nie.”

“Dit is ’n skande,” mompel Ma. “Dis vir seker nie ’n grap nie.”

Ek kan regtig nie verstaan vir wat is sy so omgekrap nie.

“Dis nie my skuld nie,” sê Juffrou.

“Ek het sowaar my bes probeer. Ek wou jul liewe kind vanjaar regtig graag van beter leer.”

Die bohaai is heel onnodig. Vir wat is almal vies?

Dis tog mý saak as ek my gunstelingwoord kies!

Ja, ek spel dalk nie so goed nie, maar ek weet nogtans beslis dat “fakansie” my gunsteling-f-woord is.

Dié gedig, en die feit dat my vakansie onlangs begin het, het my die taalkundige Gerhard van Huyssteen se rubriek laat herlees wat in die Somer 2025-uitgawe van Taalgenoot gepubliseer is.

In hierdie rubriek haal hy onder meer die volgende interessanthede op rakende vakansie:

Ons kry “vakansie” by Nederlands, maar hulle spel dit “vakantie” en spreek dit soms uit as “va.KAN.tsie”. Maar meestal net soos ons: “va.KAN. sie”.

Voordat “vakansie” verwys het na ’n tydperk waar daar nie skoolgegaan en gewerk word nie, het dit slegs na ’n skoolvrye periode verwys.

In Engels is jy “on vacation” of “on holiday”. Hier is ons weer Engels een voor, want ons sê ewe gemaklik “met vakansie” én “op vakansie”. Ja, laasgenoemde is volkome aanvaarbaar; net soos “met verlof” én “op verlof”.

Indien jy nou met of op skoolvakansie/verlof is, geniet dit terdeë – dis immers welverdiend! As jy een van diegene is wat ander tye gedurende die jaar ’n blaaskans vat, is ek seker die rustiger verkeer en lieflike weer is julle ook goedgesind.

’n Geseënde feestyd word jou toegewens.

Elzeth Harmse

Afrikaansonderwyseres

[email protected]

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-12-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer