No Image Caption

Ons taal

Petrikor
Die wolke bou op hulle tipies dramatiese manier stapels en stapels donker kumulus-stellasies in ons grootse hemelruim. En dan kom daar ’n rammeling. . . eers van ver af; en dan sommer hier by ons.

Ek stap uit op my stoep en kyk na die skakerings van liggrys en donkergrys – al donkerder en dreigender. En dan: ’n weerligstraal en ’n paar sekondes later – die donderslag. Die eerste druppels val.

Ek maak my oë toe en snuif diep. Ek dink aan Eugène Marais se grootwild wat jaag uit die vlakte en op die bulttop opdam ... om hulle neusgate wyd te rek en die wind te sluk!

Ek rek my neusgate ook wyd; ek sluk die wind; ek teug die malse, wilde aroma van ons aarde diep in my wese in. Rondom kwetter, kweel en kwinkeleer die voëls in die takke van die luiperdboom – hulle juig soos ék.

Petrikor. . . ’n woord wat nie eens opgeneem is in my woordeboek nie! Pétros wat klip en ikhṓr wat bloed van die gode in die Griekse mitologie beteken.

Ek onthou my kinderdae in die droë Suide. Die afwagting vir dae en dae; die opbou van wolke en dan die eerste reën. En ek het geweet: nou is almal buite. Mense van hierdie aarde vlug nie binnetoe as die genadewater uitgestort word nie, nee: almal is buite. Kinders speel buite en grootmense staan bietjie meer stemmig om die skouspel te bewonder en die geil reuk van die aarde diep in te drink.

Petrikor: inderdaad klip ... en bloed van die gode!

Susan Alexander

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

[email protected]

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-11-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer