No Image Caption

Ons taal

Sonskyn en chardonnay
Skryf oor wyn, sê Willemien nou die dag.

En na ons heerlike toer deur die wynlande van Franschhoek en die Hemel-en-Aarde-vallei, moet ek mos genoeg woordstof hê, of hoe?

As gaste van die wynland, word ’n mens op die hande gedra. Jy leer van vooraf weer die kuns van wynmaak waardeer. Middagetes word met sorg bedien, en jy verstom jou aan die kombinasies van kos en wyn wat aangebied word.

Waarlik ’n troue van Dionysus en Demeter, wyn en oes. Daarna drentel jy deur lieflike tuine en is verwonderd oor die wonderlike beeldhou- en ander kunswerke wat soomloos deel van die ervaring word. Ek is geen kenner van wyn nie (oor wynproe het Doc Immelman gesê: Vir my proe wyn na druiwe!)

Ek geniet die vriendelikheid van ’n sauvignon blanc, maar spesiale geleenthede benodig ’n lekker swaar gehoute chardonnay. Internasionale Chardonnaydag word op 22 Mei gevier en dit val ampertjies op my Afrikadag-verjaardag.

Twee groot wynmakers, Jan Boland Coetzee (wat vroeër vanjaar oorlede is) en Danie de Wet het gesorg dat Suider-Afrika kan spog met wêreldklas wyn uit hierdie druif. Ek bly hul innig dankbaar.

En ek is ook dankbaar vir ons skrywers en digters wat so heerlik oor kos en wyn kan skryf: “Ons klein en silwrige planeet/ is ryker as die gode weet/ die koring is ’n heuningsel/ waaruit die goue aarde wel/ die wingerd is ’n sooi-geel bron/ wat uit die erts prut na die son/ ek sny die brood en drink die wyn/ en hou my hart van gode rein.” (N.P. van Wyk Louw)

Emma Kirchner

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

[email protected]

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-12-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer