No Image Caption

Ons taal

Binne en buite
“Gaan speel buite!”

“Kom binne. Baie welkom by my!”

Binne en buite is vir my ryk en veelseggende woorde. So oor die duim gekyk sou die meeste mense seker dink dat die twee sinne of bevele hierbo teenoorgestelde emosies kommunikeer.

“Speel” verwys hoogs waarskynlik na kinders. Gewoonlik sal jy lastige kinders uitjaag. Hulle sal dan teësinnig na buite gaan. Tog sou my seuns die opdrag met geesdrif ontvang. Want speel was buite. Wanneer ek iemand verwelkomend binnenooi, hoop ek dis met warmte. Dis die begin van goeie saamwees – soos in feestye.

Die tyd van die jaar sien ek orals Kersfees se buite: versierings, liggies, blink geskenke, Kersliedere. Dit spreek my aan en iets van Kersfees begin aan my afsmeer. Kleintyd was die langste dag Oukersdag voordat die geskenke die aand uitgedeel is. Nou dink ek tog anders.

Ek weet dat die buite van Kersfees soos die boom en geskenke my glad nie meer so ernstig aanspreek nie. Die mymer in die binneste oor geliefdes wat vroeër deel was van Kersfees fladder herinneringsgewys diep deur my gemoed. Diep Kersgesprekke en verwondering kom uit my binneste. Ek dink graag oor wye stil velde wat binne vrede gebring het. Ek voel hoe die sagte note en woorde van “Stille nag” in my binneste kom lê.

Buite is wonderlik om rykdom binne te skep. Ja, buite en binne is kosbare geskenke.

Dr. Nicoline Woest

Woordspoor K7

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer