No Image Caption

Ons taal

Afrikaanswees
Elkeen van ons ervaar Afrikaanswees op een of ander manier. As ek dink aan Afrikaanswees, dink ek aan al my grootword-liedjies. Vir my is dit die skatkis van Afrikaanswees. Ek sal nooit my laerskooldae op Tsumeb vergeet waar ons volkspele in die skoolsaal geoefen het nie. Ek kan nou nog die gedoef-doef op die houtvloer hoor soos ons tiekiedraai. Die liedjies het om die beurt gespeel. “Jy met jou mandolientjie, ek met my bandolientjie, sing ons die Oukraal-liedjie saam”, “Ek soek na my Dina my Dina my Dina. . .”, en “Rokkies wou sy dra, maar niemand kyk daarna. . .”. Almal van ons het uit volle bors saamgesing. Elke partytjie en piekniek het begin met, “Bobbejaan klim die berg, so haastig en so lastig. . .”, totdat ons geskater het van die lag. Die skooljaar is afgeskop met die feestelike waatlemoenfees, “Saai die waatlemoen. . . my mamma roei die skuitjie. . . saai die waatlemoen”. Dan was dit daai tyd van die jaar. . . die skoolkonsert! Ons het gedans op, “Vat jou goed en trek Ferreira, vat jou goed en trek. . .”, en “My Sarie Marais is so ver van my af, ek hoop om haar weer te sien. . .”, totdat ons op ’n hoë noot geëindig het met, “Suikerbossie, ‘k wil jou hê. . . wat sal jou mamma daarvan sê. . .”. Soms het ek myself dood gelag vir die lirieke, “Ou tante Koba, sy was so dom, sy roer haar koffie met haar groottoon om. . .”.

Wie en wat sou ek en jy wees sonder hierdie grootword-liedjies? Die tyd stap aan, maar nooit sal Afrikaanswees vergaan. Kom ons koester hierdie lirieke wat diep in ons Afrikaanse are vloei, “Afrikaners is plesierig dit kan julle glo, hulle hou van partytjies en dan maak hulle so. . .”.



Adéle van Niekerk

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

[email protected]



* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-10-31

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer