No Image Caption

Ons taal

Geluk by die ongeluk
So ongeveer tien jaar gelede word ek bewus van ’n ongewone geluidjie in my ore... so ’n aanhoudende singery op ’n sekere toonhoogte. Ek gaan na my huisdokter wat net sy kop skud.

“Klink my jy het tinnitus.”

“Kan mens iets daaraan doen, Dokter?” Hy skud weer sy kop. “Nie regtig nie.”

Met hierdie nuus gaan ek huis toe. Ek lees alles wat ek in die hande kan kry oor tinnitus. Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal het nie eens die woord opgeneem nie. Gelukkig het ek nog ’n kopie van dr. Van Elfen se Dokter in die Huis en ek lees wat hy sê: ’n Gesuis, gelui, gefluit, gedreun of ander vreemde geluid (soos die “geskree van sonbesies”) in die oor in die afwesigheid van omgewingsgeluide.

Dit laat my dink: ek moet dalk net ’n teenvoeter kry vir “die afwesigheid van omgewingsgeluide”. Omdat ek alleen bly, en my honde nie heeltyd met my wil gesels nie, moet ek ander – aangename – omgewingsgeluide vir myself skep.

Dis toe dat ek begin om feitlik heeldag na die klassieke musiekkanaal te luister. Ek is in elk geval baie lief vir klassieke musiek; ek kan dit net sowel as “medikasie” gebruik. Ek ontdek ook Fine Music Radio wat ek met my oorfone van my selfoon kan luister – pragtige klassieke en soms jazzmusiek.

Toe ek jare later na ’n oor-, neus- en keelspesialis gaan vir ’n ander probleem, vra hy my ook hoe ek my tinnitus hanteer. Ek vertel hom toe dat ek na klassieke musiek luister. Hy lyk beïndruk: “Dit klink na ’n goeie plan.”

“Ja,” sê ek, “en ek is baie geduldig met myself... én my kennis van klassieke musiek het nogal verbeter.”

Wanneer ek tuis my musiek aanskakel, is dit lekker om komponiste se werk te herken. Ek gaan met musiek om soos kunsliefhebbers met kunswerke omgaan – ek luister na nuanses, abstraksies en verskillende vertolkings. Omdat ek nie teoretiese kennis van musiek het nie, gebruik ek ook nie musiekterme om my ervaring van solovertolkings of grootse simfoniekonserte te beskryf nie. Ek luister met afwagting na bekende hoogtepunte in komposisies.

Dan sê ek vir die sonbesie-honkietonk in my ore: “Vat so! Probeer bietjie dít nadoen jou monotone skepsel!”

Maar ek skel darem nie gewoonlik op hierdie blikkerige, ongenooide gas in my kop nie, nee. Ek fluister eerder gemoedelik: “As gevolg van jou kan ek onderskei tussen ’n hobo en ’n klarinet se klank; ek herken al Beethoven se simfonieë; ek verwonder my en ween oor Mozart en Vivaldi; ek dans my eie lomperige dansies met Tsjaikovski se balletmusiek in my woonkamer.”

As ek die musiek afsit, is dit weer net ek en my sonbesie-vriend. Maar dit is ook goed.



Susan Alexander

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

[email protected]



* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer