No Image Caption

Ons Taal

Kindwees
Allemapstieks! Maar ek verlang na die dae van lank, lank gelede. Ek sal nooit my haasbek vergeet wat my ma gedurig met die jammerlappie wou afvee nie. Ek was haar rissiepit, ’n regte rabbedoe gereed vir kattekwaad. Dit was toentertyd se manewales wat ons lekker in die sop gebring het. Toktokkie speel het gewoonlik in ’n massiewe penarie ontaard, want daar was mos altyd daai een tjankbalie en daai een hardekoejawel. Daar was nooit tyd vir ginnegaap nie. Die fietsbende het gewag, miltsteek en al. Met my beseerde maermerrie het ons die grammadoelas ingevaar. En hoe kan ek die kerkbasaar vergeet, altyd vol tierlantyntjies en fieterjasies. Ek onthou daai halsoorkop verlief raak, en daai flikflooi met elke Jan Rap en sy maat. Daar was alewig ’n gespottery as die kêrels by ons klein hekkie moes wag. Ek kon die horries kry as my pa eers begin, “Dit lyk na ’n koddige mannetjie, ’n regte skobbejak”. Genugtig, maar hy was aspris, ’n regte terggees! My ma het hom gedurig gewaarsku om stil te bly, maar hy was altyd gereed met ’n antwoord, “Pantoffelregering!”. Ek hoor nou nog my ma se woorde, “Sjoe, maar jy lyk spiekeries!” altyd gereed met ’n pluimpie. Die sirkus se jollie-patrollie-tyd sal ek altyd koester. Die mallemeule het my wêreld laat draai. My lewe was ’n skoppelmaai terwyl ek rondomtalie draai. Holderstebolder, met ’n toffieappel in een hand en spookasem in die ander. Maar hoe het my ma altyd gesê, van lekker lag, kom lekker huil. Hierdie is geen wolhaarstorie nie. Elke kind was wraggieswaar ’n willewragtag, maar tog so pragtig!



Adéle van Niekerk

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer