No Image Caption

Ons taal

Woestynwoorde
Woestyn is ’n baie spesiale woord wat in Namibië hoort.

Die Skedelkus se naam wek vrees. Dit laat die woestyn vreesaanjaend klink en sluit aan by die Seekus van die dood. Namibiërs self kyk nie so na die groot stukke woestyn van hierdie dor land nie.

Jan Spies het ’n pragtige artikel geskryf met die seggende titel: “Die woestyn waarin ons woon.” Woon sê eintlik dat die woestyn nou ’n tuiste is, ’n blyplek, maar ook ’n plek waar die inwoners en diere van hierdie land ’n bestaan maak.

Baie boere wat hier oorleef, sal vir jou sê dat die grootste deel van die land maar woestyn is. Dis nie net die Namib en sy duine wat woestyn is nie. Min reën veroorsaak dat woestyn en semi-woestyn uitdagings stel aan hulle wat in hierdie land woon en leef.

Tog is ander woestynwoorde Sossusvlei en Dooievlei. Wanneer dit reën soos die afgelope reënjaar verander ons woestyn in ’n vlei en ’n grasparadys – so vinnig. Die nuwe woestynwoord is groen, oral groen. Ongelukkig bly die groen kortstondig met ons. En dan – dan as jy deur die woestynlandskap ry, wuif die droë gras waar daar vroeër net sand was. Mens en dier verlustig hulle in gewone gras omdat dit nie vir ons so gewoon is nie.

Woestyn en waardeer is handevatwoorde. Die mense van die woestyn waarin ons woon het by die woestyn geleer wat dankbaarheid is en verstaan vasbyt.



Dr. Nicoline Woest

Woordspoor K7

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer