No Image Caption

Ons taal

Voetlangs
Ek lees onlangs die volgende iewers raak: Find the ceremony in making your bed, the artistry in arranging your bookshelf, the rhythm in our daily routines. Let the ordinary become sacred. Let each small act be a quiet offering to the life you’re building – one moment of intention at a time. – Vex King

Toe ek hierdie vir ’n vriendin vertel, gee sy vir my ’n boekie getiteld, The Liturgy of the Ordinary deur Tish Harrison Warren. Ek gaan kyk toe in my HAT wat liturgie letterlik beteken, en dit sê onder meer: al die gebede/handelinge/liedere van ’n erediens.

Dit vra dus bietjie van ’n sprong om die gewone – die alledaagse – te verhef tot rituele wat mens kan vergelyk met die spirituele wat tuishoort by ’n erediens?

Toe tog nie so moeilik nie: dit verg net om op ’n ander manier te KYK na die onmiddellike wat my omring: Ek maak my bed vroegoggend met sorg op wanneer ek opstaan om die honde te versorg. Ek sê dan sommer: Nie so lank nie, dan kom lê ek weer tussen jou bekende voue.

Terwyl ek skottelgoed was, kan ek deur my kombuisvenster kyk na trosse en trosse rooiwangparkiete, blousysies, oranje- en geelvinke wat saamkoek om die saad wat ek uitgegooi het om op te pik.

Selfs die slaai wat ek maak, noop my om mooi te kyk na die teksture van verskillende slaaiblare; die geur van vars komkommer en soet kersietamaties terwyl ek dit netjies kerf.

Ander tekens wat ek raaksien: Die verwondering in my kleinseuns se oë terwyl ek vir hulle stories lees; die baldadige speelsheid van my honde in die veld; die gemaklikheid van gesprekke tussen ou, ou vriende . . .

Wanneer ek dan neersyg in my gemakstoel met ’n glas rooiwyn en ’n boek, luister ek na die simfonie van stilte, soek my boekmerkie tussen die blaaie en dink by myself: Ja . . . suiwer liturgie.



Susan Alexander

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-07-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer