Ons taal
Heimwee
Waarom weet ek nie, maar ek vang myself deesdae meer gereeld terugdink aan die dae wat nooit weer sal wees. Mimi Coertse se woorde in haar lied “Heimwee” lê na aan my hart, “O ek sien weer die son op die velde en die ewige blou daarbo; en my hart skiet vol van heimwee en my drome swem in my oë”. My onvergeetlike herinneringe word vervang met die oneindige verlange, en ek voel hoe die trane rol oor my wange. Weet net dat ek ons Desembervakansies nooit sal vergeet. Die karavaan vol gelaai, terwyl Carike Keuzenkamp en Janita Claassen se kassette om die beurt lawaai. Ek hoor my ma se woorde, “opstaan duifie, kam jou kuifie”, wat aanhou sing soos akkoorde. My pa se vroeë oggend fluit volg my dag in en dag uit. Sondae is ek broos van verlange, maar die herinneringe is my troos. Die geweldige hunkering na ons geselsies om die eettafel sal by my bly tot die dag wat die liewe Vader my na julle toe lei. Soos Kersfees nader kruip, kom klop die verlange en hartseer weer aan my deur. Julle plekkies is leeg, maar jul nimmereindige liefde kan ek teen niks opweeg.
Ek hoor die woorde, “Oupie en Oumie”, soos my seuns baljaar, eendag sal hulle ook die verlange ervaar. Met ’n traan wat rol en ’n hart geskeur, sal net die tyd my kan leer. Ek smag na nog ’n laaste drukkie wat asseblief langer hou as ’n rukkie! Die verlange na julle kan ek nie beskryf, net die heimwee in my lyf. Met my gees en vlees koester ek die dae wat nooit weer sal wees, en wanneer die heimwee my weer oorrompel, kan ek myself weereens in jul liefde dompel.
Adéle van Niekerk
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie