No Image Caption

Ons taal

’n Skatkis vol woorde en avonture
’n Paar weke gelede maak ek ’n houttrommel in my ouerhuis oop. ’n Ware skatkis vol woorde en avonture. Die trommel is tot oorlopens toe volgepak met kinderboeke uit my, my suster en my broer se kinderdae. Byna almal van hulle nog hardebandboeke – my gunsteling!

My rede vir die opdiep van hierdie kosbare skatte is omdat ek oor ongeveer twee maande my eie eersteling in die wêreld verwelkom. En natuurlik moet sy selfs voor geboorte reeds ’n vol boekrak hê!

Terwyl ek die boeke uitpak en afstof, gaan ek op ’n nostalgiese reis na my eie kinderdae. Die blaaie spreek boekdele – dis nie net vol stories en die kleurvolste prentjies nie, maar ook vol van ’n hele paar krapmerke hier en daar om die boek ekstra karakter te gee. Terwyl ek weer die titels raaklees, word iets in my verbeelding wakker en dit voel amper asof die storielyne soos films voor my afspeel. Net daar besef ek weer die waarde daarvan om vir kinders stories te lees. Ek beleef dan nou self watter groot impak hierdie stories meer as 25 jaar later steeds op my het.

’n Ander kosbare boek wat ook reeds op haar boekrak verskyn, is een waarin my ma verskeie bekende liedjies met die hand neergeskryf het. Liedjies wat sy saans voor slaaptyd vir ons gesing het. Ek is opreg dankbaar vir ouers wat ons van kleins af lief gemaak het vir woorde. Vandag besef ek opnuut die waarde daarvan en is vasbeslote om daardie liefde te laat voortleef in my eie kind(ers).

Net verlede week lees ek ’n blog op Afrikaans.com getiteld “Ma-wees is nie kinderspeletjies nie”. Hierin vertel die skrywer, Nicolette Kritzinger, spottenderwys hoe mense deesdae oorboord kan gaan wanneer dit by raad vir nuwe ouers kom. Sy sluit die blog met die volgende woorde af: “Ek dink terug aan my eie kinderjare. Ek onthou nie of my ma ’n keiser gehad het nie. Ek kan nie onthou of ek blikmelk of borsmelk gedrink het nie. Ek weet nie of ek lapdoeke of weggooidoeke gedra het nie. Ek onthou wel die krismisbed op Oukersaande. My pa wat in die nag ’n paar skoene uit die skoorsteen hang sodat ons kan glo Kersvader was in die huis. Ek onthou die Bybelstories wat my ma in die aande voor slaaptyd vir my gelees het. Ek onthou kaalvoetvakansies saam met die familie op Henties se strand.”

Net só onthou ek al die avonture waarop die boeke in hierdie bogenoemde skatkis my gevat het. Ek sien met kinderlike opwinding daarna uit om weer op hierdie bekende – en nuwe onbekende avonture – te gaan. Hierdie keer saam met my man en ons dogtertjie.



Nicolette Steyn

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer