No Image Caption

Ons taal

Watter slaggate versper jou pad?
Slaggat is ’n selfstandige naamwoord en soos legio naamwoorde spog dit met beide ’n letterlike en figuurlike woordeboekbetekenis as jy dit opsoek.

Letterlik word dit gedefinieer as “’n (gevaarlike) gat in die oppervlak van ’n pad” met die gepaste voorbeeldsin daarby Ná die reën is die paaie vol slaggate. As jy egter op soek is na hoe ’n slaggat lyk, hoef jy nie verder as ál Windhoek se strate te gaan soek nie.

Die figuurlike definisie lui “’n probleem/moeilikheid wat ’n mens nie dadelik/maklik raaksien nie en die voorbeeldsin Let nou mooi op; moenie weer in dieselfde slaggat trap nie.

In ons lowergroen hoofstad moet jy egter deesdae slaggereed (ten volle voorberei vir dit wat gedoen moet word of op wat gaan gebeur) wees en jou beste bestuursvernuf inspan om die letterlike slaggate te vermy sodat jy nie figuurlike slaggate tref en jouself onnodige moeilikheid – soos nuwe bande – op die hals haal nie.

Trek dus ook daagliks liefs jou baadjie genaamd Geduld aan en wees bedag daarop dat die verkeer teen ’n slakkegang (baie stadige beweging) gaan voortploeter.

Behalwe woordeboeke, het ek ook die VivA-app (Virtuele instituut vir Afrikaans) en Google/AI geraadpleeg in my soeke na inligting oor slaggate.

Groot was my verbasing met die volgende ontdekkings: VivA vertaal slaggat as pitfall, terwyl Google ons verseker pothole is vir seker slaggat in Afrikaans. AI se lys van sinonieme vir pothole, sluit in hole, pit, depression, cavity en chuckhole. Blykbaar is chuckhole ’n algemene, informele Amerikaanse term vir pothole.

Pothole se definisie op sy beurt is a pot-shaped depression in a road surface, usually asphalt pavement, where traffic has removed broken pieces of the pavement.

Mag jy, liewe motoris, egter nie in ’n depressie verval met die huidige stand van sake/paaie nie en skerp maar jou bestuursvermoëns op saam met elke druppel reën wat so mildelik neerstort.



Elzeth Harmse

Afrikaansonderwyseres

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer