Ons taal
Breyten Breytenbach: Die som van verlies
Op skool moes ons sporadies opstelle skryf oor die onderwerp “My held”, naas “My vakansie” was dit vir my die verfoeilikste onderwerp, want ek was nog nooit die tipe wat ’n heldeverering vir mense gehad het nie. Mense is te feilbaar en iets aan die stelling “Hy is my held” het net nog nooit eg gevoel nie.
Selfs toe my vriendin verlede jaar verklaar dat Breyten Breytenbach my “held” is toe ek hom by die Tuin van Digters kon ontmoet, het dit snaaks gevoel, was ek op die punt om te sê: “Ek sou nou nie sê hy is my ‘held’ nie.”
Toe my man die foto wat ek daar saam met hom geneem het, vir my geraam het, was ek aangedaan oor die gebaar, maar die foto was eerder ’n herinnering aan my man se liefde en ondersteuning, as wat dit ’n simbool was van ’n heldeverering – self sou ek nooit die foto geraam het nie.
Vir ’n hele jaar het Breyten bo my lessenaar oor die vordering met my MA-verhandeling oor sy werk gewaak en uiteindelik kon ek dit einde Oktober indien. Dit is by hierdie einste lessenaar, onder hierdie einste foto waar ek die tyding van sy dood die afgelope Sondag ontvang het en ek gekonfronteer is met emosies wat ek nie verwag het nie.
Hoe kan mens huil oor die dood van iemand wat jy nie geken het nie? Hoe kan ’n mens verslae en verstar in ’n waas ronddwaal oor iemand wat jy self net vir die duur van ’n middag in die Breytenbach-sentrum in ’n heldergeel broek sien rondwandel het? Hoe kan ’n mens hartgebroke, in ’n staat van ontkenning, beriggewing oor sy afsterwe vermy, as jy maar nog net enkele minute lank met hom ’n gesprek gevoer het?
Is dit die drie jaar wat ek aan die studie van sy werk gewy het? Is dit die wete dat hy nooit sal weet wat ek daaroor geskryf het nie? Wou ek hê hy moes weet?
Is dit die indruk wat hy by die Tuin van Digters op my gemaak het? Is dit die impak wat hy op Afrikaans gehad het? Is dit sy visie, intellektuele vermoë, insig, aktivisme, kritiese ingesteldheid of slag met die taal wat ek so lief het?
Is dit die sinkende besef dat dit die einde van ’n era is, dat geen hand soos syne sal kan sing nie? Is dit die vrees dat sy nalatenskap te gewigtig sal wees vir ons om te dra, dat ons nie opgewasse daarvoor sal wees nie, dat ons die fakkel sal laat val?
Uiteindelik besef ek, is die antwoord eenvoudig die som van al hierdie redes: Breyten Breytenbach wás my held.
Annika van der Linde
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
[email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie