ons taal
ons taal

ONS TAAL

Mandy Rittmann
T-hemp. Tydloos. Trots.

Die eenvoudigste dinge (en woorde) in die lewe kan soms ’n veel dieper betekenis dra as wat ons aanvanklik dink. Byvoorbeeld die kledingstuk (en woord) “T-hemp”. Wanneer jy die woord "T-hemp" op Google intik, kry jy meer as 120 000 uitslae en verskeie definisies.

As ek ’n definisie aan die woord T-hemp moet gee, sal ek sê dis die groot gelykmaker. Byna elke persoon hier op Moeder Aarde besit ’n T-hemp, ongeag geslag, ouderdom of ras. Talle mense dra T-hemde ter wille van gemak en gerief. Dis egter ook ’n uiters goeie manier om jou persoonlikheid uit te druk en ’n mode-standpunt in te neem, veral deur slagspreuk T-hemde te dra. Of dit nou ’n slagspreuk bevat, of bloot ’n prentjie – T-hemde bly steeds tydloos in die mode-wêreld.

T-hemde het beslis die toets van die tyd deurstaan en is byna soos ’n tradisie wat deur elke generasie voortgesit word. T-hemde is verder ook ’n nuttige “lyflike reklamebord”. Dit word dikwels gebruik as ’n universele instrument t.o.v. bemarking of propaganda om gebeurlikhede te bemark wat verband hou met kultuur, sport, politiek, godsdiens, akademiese instellings ens. Hierdie diverse kledingstuk bevat hartspraak, maar ongelukkig ook haatspraak met tye.

Die “T” in T-hemde verteenwoordig nie net die vorm van die hemp nie, dit simboliseer ook trots. Is trots dan nie juis die gevoel wat deur ons are vloei wanneer ons ’n T-hemp dra wat ons laat voel of ons êrens hoort nie?

Nicolette Steyn

Afrikaansdosent by die Universiteit van Namibië

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer