No Image Caption

Ons taal

Dit word mos net ’n dassie genoem, nè?
Die afgelope paar weke was ek by talle kongresse betrokke. Ongelukkig onthou ek wel nie altyd elke aanbieding of gebeurtenis wat daar plaasvind nie, maar eerder die mense wat ek ontmoet het en die gesprekke wat gevoer is.

Tydens die eerste kongres het ek in die koffiery gestaan en klets met ’n skrywer en gou het ons gelag oor ’n gedeelde “talent” waaroor ons beskik – om spelfoute raak te sien op enigiets – van spyskaarte tot amptelike dokumentasie tot kennisgewingborde – alles. Sy merk toe op sy het al voor die keuse te staan gekom om vriende te hê of hul spelfoute te korrigeer in teksboodskappe. Ditto.

Gedurende die tweede kongres was ek by ’n werkstasie ingedeel saam met ’n Keniaan. Op pad na ons buitelugkantoor het ons verby twee dassies gestap. Hy vra wat dit in Engels genoem word. Skaam moes ek erken dat ek geen idee het nie.

Twee dae later op ’n bergklimuitstappie het ek dié vraag aan my vriendin met ’n doktorsgraad in die wetenskappe gestel. Sy antwoord hoewel Engelssprekendes hier dit ook net dassie noem, is die naam eintlik rock hyrax en as mens dit direk moet vertaal sal dit neerkom op “rotskonyn”.

Dis die oulikste en mees gepaste neologisme wat ek in ’n lang tyd gehoor het en net weereens bewys dat ons taal sal bly voortbestaan. Ek het nog nooit voorheen die woord hyrax gehoor of gesien nie, maar tog het ek onmiddellik gewéét hoe dit gespel word.

Tog hoop ek my speltalent val in dieselfde kategorie as wat spotprentkunstenaar Kobus Galloway biltong beskryf: “Om taai biltong te eet is nie ’n straf nie, dis ’n sening”. Al irriteer ek dalk soms mense met my spelvermoë beskou ek dit nie as ’n straf nie, maar ’n seëning.

Elzeth Harmse

Oudjoernalis & Afrikaansonderwyseres

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer