Ons taal
Dankie vir jou onbaatsugtige bydrae tot ons taal
Liewe Ronelle
Ons as Afrikaner is so ordéntlik grootgemaak dat ons dikwels versuim om vir iemand te sê watter impak hulle op ander se lewens het. Ja, hét, nie gehad het nie. As iemand vir jou bewonderingswaardig is, sê dit vandag vir hulle, want môre het jy dalk jou kans verspeel.
Daarom dra ek vandag se “Ons Taal” op aan jou, Ronelle Rademeyer. Ek was bevoorreg om as jong joernalis saam met jou te kon werk en by jou te leer kers vashou. Hoewel ons al vir etlike jare nie meer kollegas is nie, is ek dankbaar en bevoorreg om jou steeds vriendin te kan noem.
Ronelle, behalwe vir die voorbeeld wat jy as skrywer en as mens gestel het, is al wat op die ou end oorbly, net om jou te bedank.
Dankie vir die skrywerslesse wat jy my geleer het.
Dankie dat jy daagliks aan ons almal wys wat dit beteken om ’n statige en grasieuse vrou te wees – jy is die ware verpersoonliking daarvan.
Dankie vir jou mooi woorde wat jy so gereeld en mildelik gedeel het – en nog steeds doen, al is dit op ander platforms. Diegene wat bereid is om te lees en te luister, word bederf met jou denke en skrywerstalent.
Ons wat jou in die joernalistiek leer ken het, het soms vergeet dat jy eintlik dogter, suster, vriendin, vrou en ma ook is en dat jy daaroor ook passievol en daarvoor lief is en nie net vir werk nie. Geniet dus nou elke oomblik saam met jou geliefdes, want jy het reeds jou lewe aan ons taal gewy. Daarvoor sê ek dankie.
Elzeth Harmse
Oudjoernalis en Afrikaansonderwyser
[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie