Ons taal
’n Appel en ’n ui
Hierdie week was twee voorblaaie van Republikein pitkos vir my taalrubriek. Eers was dit kleinnig Wil-merie se asemrowende soutkristalkuns wat daartoe gelei het dat ons ander nig haar beskryf het as ‘n uitskietpiet – wat ‘n lekkersêwoord! Self sou ek ook aan ander mooi Afrikaanse woorde kon dink om haar te beskryf en wat dieselfde betekenis oordra, soos sy is ‘n uitskieter. ‘n Ander moontlikheid sou kon wees dat sy ‘n voorslag is. Laasgenoemde is dalk minder trefseker, as gevolg van veranderende omstandighede, want ek wonder of al ons lesers nog weet wat ‘n voorslag is. Vir diegene wat dalk nie weet nie – dis die dun riempie voor aan ‘n sweep wat die knal in die sweepslag sit. ‘n Voorslag is iemand wat fluks is en uitstekende werk doen. Eergister se voorbladopskrif het gepraat van iets wat vir ‘n appel en ‘n ei verkoop is, dit wil sê dat dit baie goedkoop verkoop is. My swaer het gevra of dit nie ‘n appel en ‘n ui moes wees nie. Goeie vraag! Ek weet daar bestaan byvoorbeeld ‘n winskoopgroepie op sosiale media wat ‘n prentjie van ‘n appel en ‘n ui as hul embleem het. En ja, kom ek bieg nou maar dat ek self ook vir lank geglo het dat dit is hoe dit moet wees, tot ek in die Afrikaanse klas die verduideliking geleer het. Die uitdrukking is deel van ons erfgoed uit Nederlands. En die Nederlandse ei is in die uitdrukking behou, selfs al noem ons die Nederlandse ei in Afrikaans ‘n eier.
Petronella F Genis
[email protected]
Facebook: Woordspoor
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
Petronella F Genis
[email protected]
Facebook: Woordspoor
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie