Ons taal
Net tjankgeluidjies
“Kom ons droom Afrikaans in 2043” so lui die titel van Wannie Carstens se praatjie verlede week.
Na sy praatjie voel ek egter broos en kleingelowig, want die werklikheid wat Afrikaans in die gesig staar klink eerder soos ’n nagmerrie. Kort daarna is Breytenbach se LitNet-skrywe, “Uit die fragmentarium 4” nóg koue water op die vuur:
“Die Afferkaners is te bang/realisties/pragmaties/Sjymbosserig/kop-gekoloniseer/gemaklik om hulle eie bastertaal te eer en verdedig.”
Breytenbach sê sy digbundels gaan verpulp word. Om plek te maak in die pakhuise. Ek dink, ja, hoeveel mense waag nog om Breytenbach se werk aan te pak? Sy werk is moeilik, ja, maar waardevol. ’n Woorde-skat. . . binnekort verpulp, verlore en later vergeet. . .
“Dit is waarom ons glo in liefdadige opvoedingsaksies. Dit is waarom ek, Oubôbjaan as skimmel terroris [...] nooit weer by hulle sal kan uitgee nie.
Dit is waarom hulle huil van die lag.
En dit, liewe Leser, is waarom ek jou en die ander vyf lesers so tugtig met hierdie morsige woordwerkwinkel, ‘In die fragmentarium’. ’n Hond kan nie anders as om te wil blaf nie. Al maak hy ook net tjankgeluidjies.”
Ek voel ook nogal soos daardie hond. Hoekom moet ek nou juis ’n vurige liefde hê vir iets waarvan die toekoms apokalipties lyk? Wat van iets anders? Maar ek kan nie.
Ek klou verbete aan daardie stukkie hoop dat ons nog in drome kan glo, dat ons in 2043 nog uitbundig in Afrikaans sal blaf, omdat óns, die sprekers van Afrikaans, nie anders kan nie.
Maar soms tjankhuil ek saam met Breytenbach vir die maan – ’n tjanktelegram aan jou liewe leser: Koester ons taal.
Annika van der Linde
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
[email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie