Ons taal
Geretaaier
Hallo Ma
Ma se jongste is nou ook een van hulle. Dié wat afgetree het. Met ander woorde, ek is nou geretaaier. Nee Ma, ek hoef nie nuwe bande te kry nie; ek loop nog steeds op dié waarmee Ma my in die wêreld gebring het. Soms voel dit wel of ek op die rimme loop as my taaiers pap raak, maar dit is niks wat ’n whiskietjie teen sononder nie kan aanspreek nie.
Behalwe dat ek nie meer soos die werkendes soggens vroeg móét opstaan en loop klasgee nie, het daar nóg ’n paar dinge verander: neem nou die woord roer: in Roer jou litte is dit ’n werkwoord; en in die boer met sy roer is dit ’n naamwoord, hoewel effens verouderd. Maar dit het tog verdere betekenisuitbreiding ondergaan: enige beweging direk nadat jy wakker geword het. In die oggende as ek regop kom wanneer Chrissie my koffie bring, is my roer seer: Eina, my roer is seer!
Toemaar Ma, ek is eintlik ontsettend dankbaar, want alles van my werk nog. Dit wat ingaan, kom weer een of ander tyd uit, en as ek vaal voel gebruik ek lipstiek. Ek kan nog met die kleinkinders wegkruipertjie speel, en soms is ek selfs vinnig genoeg om myself te blok sodat ek nie dadelik weer hoef oë toe te hou nie.
Ma, maar nou iets anders. Ma is nou waar Ma is, en dit is nie waar ek is nie. Woon Ma op ’n nuwe planeet? Of is die aarde soos ek hom ken Ma se nuutgemaakte woonplek? En as laasgenoemde waar is, beteken dit dat ek in ’n illusie leef, want anders sou Ma steeds orkane, storms en vuur beleef het en te hore gekom het van dreigemente oor kernontploffings? Eet Ma-hulle ook nog lekker, of leef Ma van liefde en vrede? En as dit so is, maak liefde en vrede jou vol en minder tam voel (of sommer net gewoon gelukkig) – soos wat gebeur het as Ma destyds van my beesstert geëet het? Ma, Ma sê niks nie. Ma?
Baai, my stil Moederaarde
Chrisna Beuke-Muir
Afgetrede dosent

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie