Ons taal
Hallo my Pa
Daar het Saterdag ’n snaakse ding met my gebeur. Ek het ’n brief ontvang van wyle Ma Poppie. Ja, Pa kan seker dink hoe my oë gerek en my hart gebokspring het toe ek haar mooie handskrif op die koevert eien, soos toentertyd wat ek elke week só ’n koevertjie in my koshuisposhokkie te wagte kon wees. Maar hierdie een is per hand afgelewer. Sien, Oom Andries is oorlede en sy kinders het sy huis in die Paarl uitgesorteer en hierdie vergete brief in ’n boek ontdek. Ek het mos naweke by hulle gaan kindvoel wanneer my Kovsiehart bietjie verwese in Matieland gevoel het. Moes die brief vergeet het in ’n boek wat my geselskap was. Klein Andries het die koevert verlede week saamgebring Namibië toe. Drie lugposbladsytjies, ’n koerantknipsel van Des Erasmus oor Afrikaans se Kaapse draai en ’n paar foto’tjies van die Bloem-draai toe ons my graad gaan haal het. Ek soek na trefsekerwoorde om te beskryf wat ek voel terwyl ek die vervloë tyd in my geheue terugroep. Ek besef groener gras is nie noodwendig op ’n ander plek nie, soms is dit in ’n ander tyd. Ek herkou die gedagte, en my oog vang die vlakvarksog wat staan en smul op die klein grasperkie voor ons stoep. Ek hoor die wind en sien hoe hy dans deur die goue gras van die veld rondom ons huis. En ek besef, mens hunker soms na die groen van jonkwees en kindwees, maar hier in die gouer jare na vyftig, word ek omhels deur ’n waardering vir soveel mense en tye wat reeds was, soveel ander wat nou is en soveel meer wat nog sal kom, en dit is goudwerd.
Stuur groete vir Ma.
Petronella F Genis
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie