Photo Caption
Photo Caption

Ons taal

Wanneer Windhoek pers droom
Adéle van Niekerk

Volgens die HAT is ’n jakaranda ’n “sierboom met pluime blou of violet blomme en dubbelgeveerde blare, oorspronklik uit Brasilië afkomstig”, maar vra ’n Windhoeker, en dié boom is soveel meer. Dis lente wat haar pers verfkwas uithaal, strate wat onder blommetapyte verdwyn en herinneringe wat onder bloupers skaduwees wakker word.

Skaars word die dae warmer, of die jakarandas trek hul feesrokke aan. Hulle staan doodluiters langs die strate en pronk, terwyl ons met inkopies, werk en ’n kop vol gedagtes verbyjaag. Onder hul pers skaduwees voel Windhoek anders. Sonlig speel tussen die takke en die wind strooi blommetjies soos konfetti oor die sypaadjies.

Selfs ’n rooi verkeerslig word ’n kans om die pers prag in die lug te bewonder. Vir ’n oomblik lyk dit asof die hemel self ’n stukkie van sy mooiste kleur tussen die takke kom ophang het. 

Die HAT noem Pretoria die “Jakarandastad”, maar wanneer Windhoek pers blom, wil ek darem ook ’n kroon vir ons hoofstad opeis. Tog bring jakarandatyd ook ’n tikkie heimwee. Vandag pronk die bome in volle glorie en môre lê die blomme verlep op die grond. Hulle herinner my dat mooi oomblikke nie vir altyd wag nie. Daarom wil ek stadiger ry, die kleur geniet en die lente behoorlik raaksien. Vir my is ’n jakaranda dus meer as ’n sierboom uit Brasilië. Dis Windhoek se manier om te sê: haal asem en geniet wat voor jou is, want soms hang die mooiste geskenk bo jou kop, sonder ’n lint of kaartjie. So, wanneer Windhoek haar pers rok aantrek, kyk op. Die lewe gooi immers nie elke dag blomme voor jou voete nie!


Adéle van Niekerk

Afrikaansonderwyseres

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-11-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer