Photo Caption
Photo Caption

Ons taal

Integriteit
Dr. Nicoline Woest

Integriteit het ek nog altyd gedink is ’n tongknoop-grootwoord. Dit is seker so. Ek dink egter vandag dis eintlik nou ’n noodwoord. Dis ’n woord wat vir die hele wêreld noodsaaklik is.

Integriteit is ’n dringende woord. Hoekom dink ek so?

Die HAT verklaar integriteit as: Regskapenheid, volledige eerlikheid, onomkoopbaarheid. Dis so ’n belangrike mondvol dat ek wonder of integriteit nie net ’n wenswoord is nie. Dink net hoe wonderlik ons land sou wees as alle mense volledig eerlik en onomkoopbaar was! 

Eerlikheid is iets waarmee ons voorwaar baie sukkel. Ek onthou dat my man een keer oor eerlikheid gepreek het. Hy het gesê dat navorsing bewys dat 95% mense ongeveer 120 leuens per dag vertel. Die ander 5% vertel nog meer leuens. Die ergste is as ek vir myself leuens vertel en dit nog boonop glo. Dis waarom integriteit so ’n kosbare en belangrike woord is. Dit ruk my tot stilstand en noop my onmiddellik tot indringende selfondersoek, want om vingers te wys doen niks aan my eie integriteit nie. As ek dit van ander verwag, begin ek deur aan my eie integriteit en eerlikheid te werk.

In die woord integriteit lê ook die woord integreer opgesluit. Sielkundiges beweer dat ’n geïntegreerde mens ’n heel mens is. Dis nogal iets wat ek wil nastrewe.

Om ’n mens met integriteit te wees, is nie net tot voordeel van alle ander mense rondom my nie. Dit is veral tot my eie voordeel. Dit maak my heel. 


Dr. Nicoline Woest

Woordspoor K7

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar

Republikein 2026-10-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer