Photo Caption
Photo Caption

Ons taal

Wonderwêreld van eerste woorde
Nicolette Steyn

Ons dogtertjie word môre 16 maande oud en sy is nou op daardie oulike ouderdom waar sy – tot ons almal se opwinding en genot – elke dag ’n nuwe woord of twee sê!

Dit het my bietjie laat dink en laat oplees oor die konsep van taalverwerwing.

In ’n artikel op LitNet deur Southwood en Nel (2025) word taalverwerwing gedefinieer as “die onbewuste proses waartydens ’n moedertaalspreker taalreëls internaliseer deur blootstelling aan verstaanbare taaltoevoer”. 

Volgens hierdie artikel is taalverwerwing die natuurlike proses waartydens kinders hul moedertaal aanleer, asook hoe die verskillende aspekte van taal in kinders ontwikkel. Die artikel brei verder uit deur te sê dat kinders die meeste aspekte van hul moedertaal vinnig, doeltreffend en sonder formele onderrig verwerf. 

Ek lees die volgende treffende woorde in die handboek Afrikaansmetodiek deur ’n nuwe bril (2014) raak: “’n Kind se taalinstink is so kragtig dat dit eintlik onkeerbaar is.” 

Daar word verder in hierdie handboek verduidelik dat die proses van taalverwerwing outomaties deur nabootsing en blootstelling geskied.

Alhoewel taalverwerwing as ’n natuurlike proses beskryf word, word daar deurgaans klem op “nabootsing” en “blootstelling” gelê. Kinders se taalinstink sal dus onkeerbaar wees hoe meer blootstelling en hoe meer geleentheid vir nabootsing hulle kry. Hierdie blootstelling beteken dat ons as ouers, grootouers, ooms, tannies, onderwysers ens. bloot met die kinders moet práát. 

Dalk wonder jy nou waaroor praat mens dan met iemand wat nog nie self sinne kan formuleer nie? Oor alles! Deur jou sinsformulering en woordkeuses leer hulle waardevolle vaardighede aan. Daarom is dit juis ook belangrik dat ons op ons formulering, woordkeuses en taalsuiwerheid let.

Maak nie saak waar jy is nie, vertel vir jou kind van alles wat hulle rondom hulle kan sien. Trek ’n boek nader en lees dit vir hulle, of vertel vir hulle wat in die prentjies gebeur. Dalk sien jy hierdeur ook weer die mooi in die lewe raak, of gebruik dalk weer ’n woord wat jy self lanklaas gebruik het.

Niemand van ons is ooit te oud om meer te leer en te ontdek nie en die beste manier om dit te doen, is beslis deur die oë – en mond – van ’n kind. 


Nicolette Steyn

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer