Ons taal
Een van die stil voorregte van ouerskap is om jou ouers se woorde eendag uit jou eie mond te hoor kom.
Voor jy jou kom kry, eggo dieselfde refreine deur jou huis wat eens deur jou kinderjare weerklink het. Onlangs het my ma se stem onverwags in my eie stem opgeklink: “Bly net ’n bietjie stil, julle werk op my senuwees.” Hierdie keer het ek egter nie net die woorde herhaal nie. Ek het dit verstaan, diep in my lyf.
Danksy Nita se BabaGym-klasse het ek vroeg geleer van sensoriese oorstimulasie: hoe ’n baba in een asemteug van lag na huil kan beweeg omdat die wêreld skielik te helder, te hard, te veel geword het. Later het ’n arbeidsterapeut my daarop gewys dat sensoriese lading, veral met ’n tweede kind, soms die ware verhaal agter sogenaamde “persoonlikheid” is. Wat ons as temperament beskryf, is dikwels bloot die manier waarop ’n mens die wêreld deur jou sintuie ontvang.
Ek het dikwels gewens ons het hierdie taal van sintuie en oorstimulasie reeds geken toe ek grootgeword het. Maar toe my ma se woorde so natuurlik op my tong kom lê, besef ek: die wysheid lê al lank in ons taal opgesluit. Wat beteken “julle werk op my senuwees” anders as “julle oorstimuleer my”? Skyn die sinoniem van angstigheid nie dalk meer lig op hierdie senukwaal nie? Wat beteken dit om senuagtig te wees, anders as dat jou senuweestelsel só op aandag staan dat dit jou hele bewussyn begin inneem?
Iets wat senutergend is, tart immers nie net jou gedagtes nie; dit raak instinktief jou hele wese. Jou sintuie verskerp, jou asem verkort, jou liggaam maak gereed vir veg of vlug. En wanneer die lading te hoog raak en alles in duie stort, word jy nie verniet as ’n senuweewrak beskryf nie.
Met twee jong kinders voel dit soms asof daar ’n klein senuoorlog in my huis woed. Huil, geskree, botsende behoeftes en te min slaap maak dat selfs honger of ’n deurmekaar vertrek die skerpte van ’n senuskok kan aanneem.
Miskien is ek dus nie ’n prikkelbare senuorrel van geaardheid nie, maar bloot senuweesensitief. Miskien gaan dit minder oor wie ek is en meer oor wat my senustelsel op enige gegewe dag moet dra. Miskien moet ek minder haastig wees om ’n senuaandoening te diagnoseer en te medikeer, en eerder identifiseer wat my senustelsel aangedoen word en dít leer beheer.
Soms kan die ware betekenis van ’n alledaagse uitdrukking soos “jy werk op my senuwees” ’n verrassend groot sielkundige deurbraak ontsluit.
Annika van der Linde
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie