Ons taal
Die meeste van ons (as Afrikaanssprekendes) is welbekend met die uitdrukking “husse met lang ore”. Indien jy dit nog nie self geuiter het nie, is die kans goed dat jy dit al uit die mond van een van jou ouers of grootouers gehoor het.
In die HAT6 verskyn die volgende woordeboekinskrywing:
husse s.nw., deel van woordgroep husse met lang ore Ook husse met skaapore (skertsende antwoord op ’n nuuskierige vraag) jy hoef dit nie te weet nie; dit gaan jou nie aan nie: “Oupa, wat het Oupa daar?” “Husse met lang ore, knapie.”
Vroeg in 2021 verskyn die gedig hier onder op Maroela Media. Dis geskryf deur E. Niemeyer en gepubliseer in “Storiekaros”.
Husse met lang ore
Wie kan my sê wat husse is?
Husse met lang ore?
En juis hoe lyk die snaakse goed?
Waar kry ’n mens hul spore?
Word hul miskien in Husseland
of op die maan gebore?
Moet ’n mens hul in die maanlig soek,
of vroeg-vroeg in die môre?
Ek vra en vra, maar tevergeefs, my moeite gaan verlore.
Al antwoord wat ek altyd kry, is:
Husse met lang ore!
Aan die einde van 2021 word taalkundige en skrywer Sophia Kapp (en VivA – Virtuele instituut vir Afrikaans) genader vir meer inligting hieroor.
Opsommend kom haar deeglike navorsing neer op:
“Kry in die week ’n versoek van ’n gebruiker: Verduidelik bietjie vir ons waar die uitdrukking husse met lang ore vandaan kom. Wat is ’n hus? Daar is nie so iets nie. Daar is ’n woord soos husse, ja, maar ons gebruik dit nie in enige ander konteks as in ’n uitdrukking wanneer ons ’n nuuskierige agie op sy/haar plek wil sit nie.
Uit die Nederlandse bronne waarin ek iets oor husse kon opspoor, is dit duidelik dat die uitdrukking hoofsaaklik gebruik is om op vrae oor kos te reageer. Ek ken husse met lang ore goed uit my eie kinderdae, maar dit is net gebruik as antwoord op die vraag “Wat is dit?” as my ma nie lus was om vir my te sê nie, soos wat dit ook in die WAT gedefinieer word.
Ná al die gesoek en gelees oor husse kon ek dus nie met meer inligting vorendag kom as dat dit werklik ’n onsinwoord sonder ’n (taalkundige) referent is nie, dat dit in Nederlands hoofsaaklik gebruik is om kinders by kospotte weg te jaag, en dat dit in Afrikaans moontlik effe verskuif het om ’n kind by enige ander ding weg te jaag. Wat ek wel met groot sekerheid kan sê, is dat dié onsinwoord waarskynlik sy plek in Afrikaans vir ewig sal behou.”
Vandeesweek was ek bevoorreg om weggevoer te word na ’n Afrikaanse fantasiewêreld in die film Silas en die ysbeer op Tafelberg. Hierin word een van die oeroue vrae tog beantwoord: Husse woon in Droomland!
Kykers maak wel kennis met een spesifieke hus, maar nes dié woord nie in die enkelvoud in ons taal te vinde is nie; slegs in meervoudsvorm, sê die einste hus dat husse nie bedoel is om alleen te wees nie. Volgens hom is oorlewing ’n spansport; juis daarom was my gunstelingsêding uit sy mond: “Dis erg vir ’n hus om alleen te is!”
Indien jy, nes ek, ’n nuuskierige agie is en meer wil uitvind oor die leefstyl en gewoontes van husse – asook al die ander bekende storiekarakters uit vervloë kinderdae – gaan kyk die fliek. Elkeen kan doen met ’n Droomland-wandeling om die harde realiteite van die lewe te ontsnap.
Elzeth Harmse
Afrikaansonderwyseres
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie