Photo Caption
Photo Caption

Ons taal

Woorde
Susan Alexander

Iemand vra my onlangs wat my inspireer om te dig en ek antwoord: alles wat my omring, inspireer my – maar ek skryf natuurlik nie oor alles ’n gedig nie. Toe ek later bietjie nadink oor my antwoord, besef ek … daar is wel ’n element wat my van kindsbeen af baie opgewonde maak. Dit is woorde!

Ek het byvoorbeeld in die hoërskool die woord kaskade ontdek. Ek het die woord in my mond rondgerol, die herhalende k-klank en die lang a. Ek kon visualiseer hoe hierdie kleinerige waterval na benede stort en het ’n kort gedig geskryf waarin ek vreeslik uitwei oor hierdie verskynsel: sprankeldrade nattigheid, vliesigheid, heerlikheid. Af en af het dit geval, geblink, gespring, gejuig, gehuppel oor klip en stomp …

’n Ander mooie woord wat ek ontdek het, alhoewel ek toe nie ’n gedig daaroor geskryf het nie, is die woord: kariljon. In my gedagtes het ek die jubelende klokkespel op ’n Kersoggend of oor ’n Paasnaweek of met ’n huweliksbevestiging vir my voorgestel – suiwer, borrelende vreugde.

Ek het aanvanklik nie besef dat die woord lanfer nie ’n sinoniem vir swart is nie, maar ’n dun swart materiaal waarvan daar vroeër roubande om hoede en moue gemaak is. Ek het egter in my oningeligtheid en onskuld ’n gedig oor ’n nar geskryf. Bedags laat hy mense lag, maar: Snags as alles stil is; almal weg is; hy alleen is; strompel ’n ou man na sy tent – sy tenger lyf in lanferkleed gehul. Later herken ek ook die pragtige woord in die gedig wat C.J. Langenhoven geskryf het – Die stem van Suid-Afrika. In die derde strofe staan daar: In die songloed van ons somer, in ons winternag se kou, In die lente van ons liefde, in die lanfer van ons rou …

Ja, woorde inspireer my. Ek wil hulle soos koel, ronde klippies in my mond voel en rondrol; ek hoor hulle eers in my kop en dan spreek ek hulle uit – met ontsag en respek. Woorde maak my vol en ryk en dankbaar.


Susan Alexander

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-11-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer